Deur Carla van der Spuy
Suid-Afrikaners word deesdae van alles behalwe hul (galge)humor beroof
Dit help nie meer om teen die prikkels van swak diens, loodswaai en roofpryse te skop nie. Skaf eerder ‘n “oorlewingsnoodhulpkissie” aan en laat dit die pioniersvrou in jou na vore kom.
Volg die volgende tong-in-die-kies wenke en ons waarborg jou dat jy nooit sal terugkyk nie.
By die huis:
Hou ‘n indrukwekkende versameling kerse aan. Jou liefdeslewe gaan ekstra woema kry as jy jou wederhelf elke aand met ‘n kersligete verras. Dit wat met die nuutgevonde romantiek gepaardgaan is glo boonop verslankend. Danksy kragonderbrekings kan julle mekaar weer herontdek. Dit is natuurlik net voordelig as die donker julle oorval wanneer hy na sy vervelige sportprogramme kyk en nie as jou gunstelingsepie op die lug is nie. Caroline Hurry, ‘n vryskutjoernalis en skrywer van Handbook for the Huntress sê danksy die talle kragonderbrekings braai sy en haar man gereeld hul aandete en sing na die tyd uit volle bors ‘n duet saam eerder as om hul tyd voor die televisie te mors soos die geval in die dae van betroubare elektrisiteitstoevoer was.
Van vleisbraai gepraat – sleep jou braaier sommer sitkamer toe want dit raak al gevaarliker om buite te kuier. Die knus huislikheid van ‘n binnenshuise braai sal gou die spreekwoordelike vlam vat – maar hopelik is jou Persiese mat nie in die gedrang nie. Jy kan ook piekniek in jou huis hou en sommer jou sekuriteitsmense oornooi.Hou dik interessante boeke tuis aan terwyl jy, as jy gelukkig is, twee weke lank vir die Polisie wag om ‘n verklaring te neem nadat by jou ingebreek en jou huis leeggedra is. Die kanse is goed dat dit een of ander tyd in dié tydperk met ‘n kragonderbreking sal saamval want daar gaan selde twee weke verby sonder dat duisternis ons oorval. Hou in elk geval goeie boeke aan, selfs al lees jy dit nie, want sou jy in jou eie huis vermoor word kan jy mense vir oulaas met jou breë algemene kennis beïndruk.
Drink meer bier en minder water. Almal weet ons drinkwater is besoedel. Liewer ‘n bierpens as voedselvergiftiging en om die lewensbedreigende risiko te loop om in ‘n hospitaal opgeneem te word.
Neem spesiale versekering uit om jou telefoonrekening te betaal.
Hang vir elke hond ‘n noodknoppie om sy nek wat deur sy blaf geaktiveer word
Verras voornemende inbrekers, is die webtuiste www.comedyclub.co.za se raad. Maak jou huis vol hoenders. Die inbreker sal ongemaklik voel en dadelik padgee.
Op die pad:
Ry in ‘n ou skedonk rond sodat jy hopelik in die geval van ‘n kaping slegs aan “appy” kapers uitgelewer is wat so onervare en senuweeagtig is dat hulle net jou kar en hopelik nie jou kop sal eis nie. Los jou BMW in jou motorhuis. Sluit die motorhuis se deur slegs oop as vriende kom kuier en jou Rotweilers en skoonma in die omtrek is. So kan jy hulle nog steeds met jou aardse skatte beïndruk – wel, die wat nog nie weggedra is nie.
Beskou stoptekens as toegeetekens as jy verdagte figure langs die pad gewaar. Dis goedkoper om ‘n boete te betaal as om ‘n kar te vervang.
Koop ‘n groot lewensgetroue opblaaspop wat jy in jou passasierssitplek vasgordel as jy as vrou dalk alleen in die nag moet rondry. Draai gereeld na “Koos” toe so asof jy in druk gesprek met hom is sodat die boewe moet dink dat jy geselskap het. Dit sal in elk geval heerlik wees om ‘n monoloog te voer sonder dat jy onderbreek word.
Karwei jou eie bloed oral met jou saam sodat jy darem veilige bloedoortappings kry as jy in ‘n motorongeluk is. Niemand sal jou vir Dracula aansien nie. Dis in elk geval te betwyfel of hulle al van hom gehoor het.
Nog ‘n wenk van www.comedyclub.co.za is om eienaardig aan te trek as jy uitgaan. Iets in die lyn van Hompiekedompie kan nogal die ding doen. Boewe sal jou te vreemd vind om jou te wil aanval. Alternatiewelik kan jy voorgee dat jy self ‘n misdadiger is.
Sanger Riku Lätti ook bekend vir sy Zimdollarnuus wat per e-pos uitgestuur word, raai minderheidsgroepe ten sterkste af om in BMW’s vas te ry. Jy kan dalk as ‘n rassis gebrandmerk word. Hy is verder daarvan oortuig dat ‘n Daantjie Kat kursus om ‘n beter begrip van taxis te verkry ook ‘n aanwins kan wees. ‘n Voorbeeld daarvan is dat “hazards” een van duisende goed kan beteken wat insluit; “Ek mag dalk nou regs of links draai, stilhou of sommer net aanhou ry maar almal weet dit beteken eintlik ek gaan die padwet binne die volgende oomblike op besonder kreatiewe wyse verbreek.”
Riku beveel ook aan dat motoriste in ‘n opblaas monopolystel belê wat ‘n mens kan help om menige ledige uurtjies te verwyl terwyl jy op die N1 van Pretoria af Johannesburg toe by Allandale in die verkeer vassit.
Moet nooit die huis verlaat sonder ‘n rol note wat jy saam met jou bestuurslisensie kan optower; sou die geleentheid dit vereis nie. Wees oopkop.
Wees altyd gaaf met motorwagte. Jou kar is dalk niks werd nie maar die kanse is goed dat jou ryding vir die duur petrol in die tenk gesteel word. Dink net daaraan hoe groot die verrassing gaan wees as jou kar nog op presies dieselfde plek staan waar jy dit tien minute gelede gelos het.
As jy Drakensberge of see toe ry vir ‘n welverdiende vakansie moet jy sorg dat jou begroting vir verkeersboetes, tol- en of omkoopgeld minstens dié van jou verblyf ewenaar. Moenie slaap daaroor verloor as jy ‘n paar maande agter raak met die betaling van die skoolfondse nie. Hulle mag jou kind nie uitskop nie
By winkels en rekeningafdelings:
Belê in ‘n opslaanstoel, piekniekmandjie en thermosfles as jy jou elektrisiteitsrekening gaan betaal of banksake doen. Die kanse is goed dat jy twee maaltye kan misloop terwyl jy in die tou staan.
Neem ‘n steungroep saam as jy die kitsbank besoek.
Dra nagemaakte Russiese gewere oor jou skouer en skoene met sole wat die hel uit mense sal skok as jy na hulle skop
Comedyclub raai motoriste aan om altyd in geen-toegang zones te parkeer. Jou kar mag dalk weggesleep word maar dis darem beter as wat dit gesteel word. Vir ‘n verdere voorsorgmaatreel kan jy die deure permanent sluit deur supergom te gebruik. Jy sal nou wel toegang na en van jou kar deur die kattebak moet verkry maar die booswigte sal sukkel om in te kom.
Allerlei:
Maak meer gebruik van koeriers al is die kanse darem 50 persent dat jou posstuk op die tradisionele manier sy bestemming bereik
Sorg dat jy altyd sonbrandolie by jou het vir ingeval die klere van jou lyf gesteel word. ‘n Ekstra selfoonbattery kan ook handig te pas kom.
Caroline se ervaring is dat ‘n mens baie geld op manikure kan bespaar terwyl jy sonder ‘n landlyn sit. Sy kou sommer self haar naels af terwyl sy stres oor nog ‘n spertyd waarby sy nie kan hou nie. Gelukkig kan die redakteurs haar nie op haar selfoon in die hande kry nie omdat dit – danksy kragonderbrekings – gewoonlik pap is
Om die “backtrack era” in musiek te oorleef koop al meer mense nou Afrikaanse “kunstenaars” se musiek om te hoor of die CD ook so vashaak soos die geval in hul verhoogoptredes die geval is
Al die chaos het darem ook voordele. Riku glo dat belasting beslis gaan daal as gevolg daarvan dat die Staat moeg is vir die feit dat mense goed wat van hulle gesteel is vir belasting aftrekkings invul.
“Die Staat moet dalk oorweeg om ‘n maksimum gesteelde goederetoelaag in die belastingvorm in te werk,” is sy raad
Wees dankbaar vir die wye betekenis wat aan die woord “binnekort” verleen word. Dit kan enigiets van ‘n paar minute tot ‘n paar maande beteken. Moet jou nie daarteen verset nie. ‘If you can’t beat them, join them. Go with the flow.” Wil jy ‘n hartaanval oor iets so sinneloos soos tyd kry? Dis net water wat ‘n mens nie mors nie
Sorg dat jy nooit ‘n ernstiger siekte as waterpokkies of verkoue kry nie sodat jy nie in ‘n staatshospitaal opgeneem hoef te word nie. Sou so ‘n ramp jou tref, huur dan ‘n sleepwa of bakkie sodat jy jou eie linne, kos, toiletpapier, matras en nog vele kan saamneem. Huur ook ‘n gespierde veiligheidswag om jou op te pas en by jou saal wag te staan sodat jy nie in jou hospitaalbed beroof/verkrag/aangerand/vermoor word nie.
Leer goed swem. Dis glad nie vergesog dat drenkelinge deur weldoeners wat hul as menseredders voordoen van die min wat aan hul bas is beroof word nie
Sou jy of jou kind ‘n eksamenvraestel dop is dit nie nodig dat jou kop uithaak nie. Behou jou waardigheid. As jou eksamenvraestel verskil van die een wat jy gekoop of gesteel het – eis eenvoudig jou geld terug en maak die aangeleentheid by die departement van onderwys aanhangig. Staan op jou regte
Bars dit dalk om weens regstellende optrede ‘n werk in die formele sektor te kry, is daar altyd die wonderlike wetenskap van geneaologie. Met genoeg deursettingsvermoë behoort jy iewers tussen jou voorsate ‘n Hugenoot of Hollander te kry wat met ‘n “vryswarte” of slavin getroud was. Met ‘n bietjie geluk is daar dalk iewers ‘n Morewa of Tshababala onder jou voorvaders wat vir jou die deur na werksgeleenthede wyer kan oopswaai.
Het in Vrouekeur verskyn.