Argief vir April, 2008 Page 2 of 2



Ons bly net hier! – Rapport, 13 April 2008

Altesame 46 prominente figure en leiers in die Afrikaanse gemeenskap het hulle in die Vat-jou-goed-en-bly-deklarasie daartoe verbind om in Suid-Afrika te bly. Maar hulle wil protesteer teen dit wat verkeerd is en hulle wil help werk aan oplossings. Hier is hul verklaring van voorneme en die name van die ondertekenaars.

Die credo van ’n patriot:

• Ek onderneem om my demokratiese regte op te eis. Ek is ’n demokratiese burger, nie ’n demokratiese onderdaan nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondemokratiese optrede my van ’n demokratiese toekoms ontneem nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondermyning van die Grondwet my van my grondwetlike regte ontneem nie. Ek kan nie dat ander se rasbeheptheid my van ’n diskriminasievrye omgewing ontneem nie.
• Ek sal aan veldtogte deelneem om my taal te beskerm en moedertaalonderrig te verseker, om die elektrisiteitskrisis op te los en misdaad in Suid-Afrika hok te slaan.
• Ek sal help om gemeenskapstrukture te skep om my en my mense te beskerm en sal druk op die regering uitoefen om sy grondwetlike plig na te kom deur my te beskerm.
• Ek sal nie hande gevou sit oor onbillike diskriminasie teen my mense by die werk nie, en sal politieke inmenging in sport nie aanvaar nie. Ons kan nie toelaat dat grondvergrype plaasvind en politieke inmenging misdaadbekamping bedreig nie.
• Ek sal help om armoede onder my mense te takel en om opleidingsgeleenthede vir jong mense te skep. Waar die regering maatskaplike subsidies aan my mense onttrek, sal ons help om saam met kerke gemeenskapsorgstrukture te skep.
• Ek sien Suid-Afrikaners in die buiteland nie as verraaiers nie, maar as ’n internasionale netwerk wat ek gaan help mobiliseer om vir ons wat hier gaan bly, ’n toekoms te help skep. Ek glo Suid-Afrikaners in die buiteland het steeds ’n verantwoordelikheid teenoor ons in die moederland. Dieselfde redes wat hulle laat gly het, moet deur ons wat gebly het aangepak word.
• Ek sal ons Afrikaanse kunstenaars ondersteun en Afrikaans luister en lees. Waar daar nie meer Afrikaanse opleidingstrukture bestaan nie, sal ek pogings ondersteun om nuwe opleidingsinstellings te bou.
• Ek sal my hand na ander Suid-Afrikaners uitsteek en werk om ’n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika te skep.
• Ek het nie meer tyd vir die luukse om apaties en depressief te wees oor die regering se onvermoë om vir my ’n veilige en aangename omgewing te skep nie. Ek gaan saam met my gemeenskap moue oprol en nie in alles afhanklik van die regering staan nie.
• Ek sal aksies ondersteun en bevorder om vir my ’n plek in Suid-Afrika te skep, want ek gaan nêrens heen nie.

Tim du Plessis: Bly en help om te bou en te stry

Die Trekkerleier Piet Retief het ’n manifes uitgereik waarin die Boere verklaar het hoekom hulle trek.
In die “manifes” waaroor Rapport vandag berig, sê die Boere waarom hulle bly.

Albei manifeste het nietemin belangrike ooreenkomste: hulle is geskryf en onderteken deur omgekrapte mense. Albei behels protes.

Soos Dirk Hermann van Solidariteit sê: om te bly, kan ook ’n daad van protes wees. Of, in ligter trant: moenie kwaad gaan slaap nie, bly wakker en baklei!

Dis ’n subtiele, dog betekenisvolle ratverwisseling. Ons bly, want ons wil stry, regmaak.

Aan die hand van stewige navorsing deur die Instituut vir Rasse-aangeleenthede het Rapport verlede jaar berig dat sowat ’n miljoen wittes Suid-Afrika tussen 1995 en 2005 verlaat het.

Die berig is destyds wyd opgevolg en oral druk bespreek. Hoofsaaklik onder wittes.

’n Algemene reaksie was: pla dit dan nie die ANC-regering dat soveel wittes hul kundigheid en hul geld landuit gevat het nie?

Hulle móét tog bekommerd wees. Sedert daardie berig is ook knaend in die buitelandse media berig oor die massiewe uittog van wittes en deesdae al meer, ook mense van ander minderheidsgroepe.

Die waarheid is die ANC-in-regering en as politieke party gee nie ’n flenter om oor emigrasie nie.

Opposisie-LP’s wat daardie syfers in die parlement geopper het, is uitgelag deur daardie koor van leë blikke, die ANC se agterbankers.

Charles Nqakula, die meestal bewustelose minister van veiligheid en sekuriteit, het eintlik ’n helder oomblik gehad toe hy verlede jaar in die parlement gesê het dis net wittes wat kla oor misdaad, hulle moet maar skoert.

Dis die ANC se hartstaal daai. En eintlik heel begryplik.

Kan iemand nog onthou hoe die Natte die liberale, die Jode en die Engelse gekoggel het wat in die apartheidsjare gewaai het?

PFP staan vir “packed for Perth”, het hulle die party van die stoere patriot Frederik Van Zyl Slabbert gespot.
Emigrasie het nie die vorige magshebbers tot hul sinne geruk nie en sal dit nog minder doen met die huidiges. Dis bloot menslike natuur.

Eintlik is dit eenvoudig. Elke witte wat loop oor misdaad en die verlammende raspolitiek van die ANC in die Mbeki-era, is een minder wat kan protesteer.

Een minder wat sy of haar stem luidkeels verhef teen die algehele agteruitgang in die land se infrastruktuur en die skreiende onbekwaamheid van die staat op alle vlakke van regering.

Een minder wat ’n lesersbrief aan ’n koerant kan skryf om te protesteer.

Een minder wat kan inbel na ’n geselprogram op die radio en lawaai oor korrupsie en wanadministrasie.

Een minder wat inligting vir ’n opposisie-LP kan gee wat die forum van die parlement kan gebruik om wandade te onthul en op die openbare rekord te plaas.

Een minder wat vir ’n opposisieparty kan stem. Of wat ’n koerant kan koop wat onthul, ondersoek en sommer net die hel losmaak oor alles wat verdomp verkeerd loop.

Een minder wat die magshebbers ongemaklik kan laat voel met openbare protes.

Die punt is: daar is genoeg demokratiese ruimtes wat ons kan gebruik om te stry en te baklei as ons bly.
Nou weet ek daar is baie voornemende en gewese trekkers wat sal sê wat help dit ek bly as ’n daad van protes, maar ek word in my huis vermoor?

Of my loopbaan val vas weens ’n raskwota by die werk?

Vir hulle is daar gewoon geen antwoord nie. Hulle moet gaan en gelos word om in vrede te gaan.

Uiteindelik is bly of trek ’n saak van diepe innerlike oortuiging.

Maar soos ons sien aan die vrolike verskeidenheid van mense wat die Blynet-deklarasie onderteken het, hier is sommer nog lekker baie van ons wat wil “wakker bly en baklei”.

Dis ’n fout om te dink net wit Suid-Afrikaners is tans omgekrap. Die kuns is om nie-rassige koalisies te vestig om te protesteer.

Die beginpunt daarvan is om te bly.

My hart is hier – Carla van der Spuy

Laai die artikel af

Veg jy of vlug jy? Kom ons help ons kinders

Flip Buys

Die sielkundige Walter Cannon het al in 1915 gesê dat mense en diere op bedreigings reageer deur te veg of te vlug. In die moderne tyd beteken dit dat suksesvolle mense op bedreigings reageer deur iets daaraan te doen (veg), en dat onsuksesvolles net kla en niks doen nie (vlug). Die waarheid hiervan kan mens nou met al die probleme in SA sien. Dit lyk soms of die groot meerderheid net wil kla, niks wil doen, hulself onttrek van alles en selfs landuit gaan. Alhoewel dit moontlik verstaanbaar is, gaan dit (vlug) nie ons probleme oplos nie. Gelukkig kan ons deur op die regte manier te ” veg”, werk aan oplossings wat ook vir ons kinders ‘n toekoms kan skep.

Suid-Afrika het genoeg probleme om ons almal moedeloos te maak. Maar terselfdertyd bied die land genoeg geleenthede om mens ‘n paar leeftye lank besig te hou! Probleme sal daar altyd wees, daaraan kan ons nie verander nie. Wat ons wel kan verander is hoe ons daarop reageer. Ons kan kies of ons gaan “veg of vlug”. Gaan ons iets aan die probleme doen, of gaan ons net kla en gaan lê, maw vlug. Die keuse is elkeen van ons s’n.

Die meeste van Solidariteit se lede het ‘n kwalifikasie, meestal seker op tegniese gebied. Daarom is ons seker die grootste vakbond van geskoolde lede in die land. Ons lede het hierdie kwalifikasies gekry deur geleenthede wat ons in die verlede gehad het, en deur hard daarvoor te werk. Hierdie kwalifikasies en harde werk is die hoofrede waarom ons lede werk het, en in die algemeen sukesvol met hulle werk is. Ons werk sit kos op die tafel en maak dit vir ons moontlik om vir ons gesinne te sorg.

Aan die ander kant is daar miljoene arm mense in die land wat nie goeie opleiding en kwalifikasies het nie, en wat daarom nie werk het nie en broodgebrek lei. Die verskil tussen ‘n goeie werk en inkomste, en werkloosheid en armoede is dus goeie opleiding en ‘n goeie kwalifikasie. Daarom is dit ‘n tragedie en ‘n skande dat beroepsopleiding so platgeval het dat daar ‘n vaardigheidstekort in ‘n land vol werkloosheid is. Waar die land in 1977 33 000 ambagsmanne opgelei het, is daar verlede jaar net sowat 1500 opgelei.

Sol-Tech dóén iets

Die skuld vir hierdie krisis moet vierkantig voor die deur van die regering en die sakereuse gelê word. Daarom voel mens bekommerd dat diegene wat die probleem veroorsaak het dit nie sal kan oplos nie. Maar net kla en beskuldig gaan nie ons kinders help nie. Daar word nou al vir ‘n dekade oor die probleem gepraat en geskryf, sonder om veel daaraan te doen. Solidariteit is die uitsondering op hierdie reël. Ons het drie jaar gelede ‘n Kollege, Soltech gestig, lei nou al 450 ambagsleerders op, en beplan groot uitbreidings in die toekoms.

Wat ons dryf is om dieselfde en beter geleenthede vir ons kinders te skep as wat ons geslag gehad het. Ons ouers het ‘n ekonomiese wonderwerk op die suidpunt van ‘n sukkelende vasteland geskep. Ons kan egter nie net roem op hulle prestasies nie, want elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd. Dit is nou óns tyd om ‘n verskil te maak, om ‘n wonderwerk vir die volgende geslag na te laat.

My siening is dat daar dinge in die lewe is wat die moeite werd is om voor te veg en te werk. Die belangrikste hiervan is ‘n toekoms vir ons kinders. Al maak die regering nou hóe droog, en al gee die meeste maatskappye niks vir ons mense om nie, ons kan nie oók niks doen nie. Want dan gaan baie van ons kinders ook in plakkerskampe sit, al klink dit hoé ondenkbaar vir opgeleide mense soos ons.

Die tegniese kolleges vaar beroerd, met ‘n slaagsyfer van onder die twintig persent, ten spyte van miljarde rande van ons belastinggeld. Ek sal nie my kind daarin sit nie, hoe kan ek verwag dat jy jou kind daarin sit? Die slaagsyfer van Soltech was verlede jaar 83% en ons mik hierdie jaar vir 93%, en dit met ‘n fraksie van ‘n breukdeel van die begroting van ‘n staatskollege. Die groot maatskappye lei feitlik nie meer jongmense en veral wit jongmense op nie. Dis die somtotaal van dinge soos hierdie wat mense laat vlug, wanhopig raak of landuit laat trek.

Aan die ander kant is dit die somtotaal van dinge soos hierdie wat vegters juis aanspoor om iets te doen, om deur die uitvoering van jou Christelike roeping ‘n wonderwerk te vestig. Soos die lied van die ou Potchefstroomse universiteit gelui het: ” Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad”. Ons hét dit al gedoen, en kan dit weér doen!

Vir ons kinders

Die sukses wat Soltech tot sover op klein skaal behaal het, gee ons die vrymoedigheid om ‘n beroep op ons lede te doen om ons kinders te help. Ons lei tans 450 jongmense by ons een opleidingsentrum op, maar daar is ‘n behoefte om landswyd seker meer as 10 000 op te lei in sentrums regoor Suid-Afrika! Oor die 10 000 van ons lede gee reeds klein ekstra bydraes vir die Solidariteit Helpende Hand waarmee ons jongmense ‘n kans in die lewe gee. Soos derduisende klein reëndruppels die reuse Vaaldam volmaak, kan derduisende klein maandelikse bydraes van ons lede ‘n groot kapitaalfonds bou waarmee Soltech alle jongmense wat opleiding wíl hê kan oplei. Die Amerikaanse Skrynwerkersunie befonds hoofsaaklik met klein ledebydraes jaarliks meer as 40 000 mense se opleiding! Met net R10 per maand van elke lid het Soltech maandeliks meer as R1 miljoen waarmee saam met ander fondse sowat 2000 jongmense opgelei kan word.

Kom ons help ons kinders met opleidingsgeleenthede om van hulle lewens ‘n sukses te maak, en sodat hulle weer vir húlle gesinne kan sorg. R10 per maand gaan nie ‘n verskil aan jou maak nie, maar dit kan lewenslank ‘n verskil aan ‘n jongmens se lewe maak.

Vyf redes om in Suid-Afrika te bly

Deur Jaco Kleynhans

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het onlangs ? studie bekendgemaak wat aantoon dat meer as 1 miljoen wit Suid-Afrikaners sedert 1994 die land verlaat het. ? Groot aantal van hierdie emigrante is hoogsgeskoolde mense met skaars vaardighede. Daarbenewens is daar na alle waarskynlikheid tans ? paar honderdduisend Suid-Afrikaanse jongmense wat tydelik oorsee is. Die presiese aantal is nie bekend nie, en ook nie hoeveel van hulle dit oorweeg om permanent oorsee te bly nie.

Buiten die groot aantal hoogsgeskoolde wit Suid-Afrikaners wat die land sedert 1994 verlaat het, is daar tans ook ? toename in hoogsgeskoolde Suid-Afrikaners van ander rasse wat oorsee gaan. Dit sluit veral medici, verpleegsters, onderwysers en ingenieurs in.

Die rede waarom wit mense Suid-Afrika vir groener weivelde in ander lande verlaat, kan volgens die studie van die SAIRR grootliks aan misdaad en regstellende aksie toegeskryf word. In die algemeen is beter loopbaangeleenthede teen beter salarisse met beter lewensstandaarde ook ? sterk motiveerder vir Suid-Afrikaners van alle rasse om groener weivelde te gaan opsoek.

Ten spyte van al die probleme in Suid-Afrika is daar vandag meer ryk Suid-Afrikaners van alle rasse as tien of vyftien jaar gelede. Baie mense kry dit dus steeds reg om in Suid-Afrika te bly en hier ? suksesvolle toekoms vir hulself en hul gesinne te skep.

Solidariteit het ondersoek gaan instel na die redes waarom mense in Suid-Afrika moet en kan bly, sonder om lewensgehalte in te boet. Vyf van die redes is:

Geleenthede

 

In 2006 moes Sasol honderde tegnici van Taiwan af invoer om instandhoudingswerk by die maatskappy se aanlegte in Suid-Afrika te kom doen. Talle maatskappye, waaronder Sasol, Kumba Resources en Murray & Roberts Cementation, het verlede jaar spesiale aanbiedinge aan werkers met skaars vaardighede gemaak. Eskom het vroeër vanjaar aangekondig dat hy duisende geskoolde werkers sal moet aanstel om aan die groter vraag na elektrisiteit te voldoen. Talle maatskappye het aangetoon dat hulle sekere poste sal moet vul sonder om regstellende aksie in ag te neem, omdat daar eenvoudig nie kandidate is om die poste te vul nie. Dit alles beteken dat daar wel nog goeie geleenthede in Suid-Afrika beskikbaar is. Iemand wat oor die regte vaardighede beskik, of oor die wil om ? sakegeleentheid te identifiseer, kan steeds in Suid-Afrika sukses behaal.

Ontwikkeling

 

Suid-Afrika word as ? ontwikkelende land beskou. Dit beteken dat die land se ekonomie tans nog ontwikkel om tot op dieselfde vlak as eerste wêreldekonomieë te vorder. Ontwikkelende lande het baie keer hoër ekonomiese groeikoerse omdat sulke lande se natuurlike hulpbronne nog nie ten volle benut word nie en omdat produktiwiteit steeds besig is om te verhoog. Dit beteken dat daar vir entrepreneurs in ? land soos Suid-Afrika geweldig baie geleenthede bestaan om nuwe produkte of dienste beskikbaar te stel. So byvoorbeeld beplan Eskom om oor die volgende paar jaar talle nuwe kragstasies te bou. Dit sal beteken dat daar in die gebiede waar die kragstasies gebou gaan word, talle behoeftes aan dienste en produkte sal ontstaan. Alles gaan daaroor of mens ? geleentheid kan raaksien en dit benut.

Die land

 

? Derde rede waarom mense in Suid-Afrika moet aanbly het natuurlik te doen met wat die land jou kan bied. Goeie weer, byna geen natuurrampe nie en pragtige natuurskoon is maar net ? paar van die dinge waarna mense verlang as hulle die land verlaat het. Dit alles dra natuurlik ook by tot mense se lewensgehalte.

Ons taal, kultuur, geloof en familie

 

Suid-Afrika bied steeds aan sy inwoners ? ryke kultuurbelewenis. Suid-Afrikaners het ook ? kuierkultuur soos min. Tussen al die musiek, feeste en lekker restaurante en die geleentheid om saam met jou familie en vriende vleis te braai en rugby te kyk, het ons steeds ? kultuurbelewenis wat min ander lande kan bied. Suid-Afrikaners het ook steeds die geleentheid om baie vrylik aan geloofsaktiwiteite deel te neem. Omdat die grootste gedeelte van Suid-Afrika se bevolking hulself Christene noem, is daar veral vir Christene ? baie goeie atmosfeer om hul geloof in uit te leef. Suid-Afrika het ook steeds ? sterk familie-ingesteldheid, waar die gesin en groter familie steeds baie belangrik is. Emigrante kan hierdie ondersteuning verloor.

Daai iets wat ons Suid-Afrikaners maak

 

Vra maar vir meeste Suid-Afrikaners wat geëmigreer het en daarna weer na Suid-Afrika teruggekeer het en meeste sal vir jou sê dat dit daardie iets is wat hulle gemis het. Daardie iets het natuurlik met Suid-Afrikaanswees te make. Ons Suid-Afrikaners het al ? kultuur van ons eie ontwikkel en daarom is dit nie altyd vir ons maklik om in ander lande aan te pas nie.

Dit is waar dat daar vandag baie negatiewe dinge in Suid-Afrika is. Misdaad, regstellende aksie, hoë brandstof- en kospryse, ? tekort aan elektrisiteit is maar ? paar. As mens egter hierdie kwessies en hulle regstreekse uitwerking op mense teen die voordele opweeg wat ons land vir sy mense inhou, dan moet dit steeds swaarder weeg om in Suid-Afrika te bly. Die meeste krisisse wat ons tans beleef is van ? tydelik aard en kan wel oor die langtermyn opgelos word. Ons moet dus nie hoop in ons toekoms verloor nie, maar moet eerder saamspan om vir onsself ? toekoms hier te skep.

? Kontrak met mekaar: ons gaan bly en stry vir ? beter toekoms

Deur Dirk Hermann

Solidariteit se leierskap het besluit om ? kontrak met ons mense te sluit waarmee ons onderneem om hier in Suid-Afrika te bly. Ons gaan nêrens heen nie. Ons is ook daartoe verbind om veldtogte te loods en strukture te skep wat dit vir mense moontlik sal maak om demokratiese ruimtes te skep.

Ons roep mense op om deel te neem aan ? veldtog om kontrakte met mekaar te sluit waarin ons onderneem om te bly en vir ? beter toekoms te stry. Ons beplan om ? landwye netwerk van blyers te skep, met die naam Blynet. Ons beplan om gereeld met mekaar te praat en om almal op Blynet in te lig van die nuutste veldtogte en ander aksies om vir ons ? toekoms hier te skep.

Sluit nou kontrakte met mekaar en stuur jou onderneming om vir ? beter toekoms te bly en te stry aan blynet@solidariteit.co.za, of besoek www.blynet.co.za om gratis by die netwerk aan te sluit.

? Kontrak met mekaar

  • Ek is van Afrika. My taal is Afrikaans en ek is ? Afrikaner. My voorouers het meer as 300 jaar gelede besluit om hulle rug op Europa te draai met hulle gesigte na Afrika.
  • Ek hou van Suid-Afrika – die natuur, die klimaat, die oop omgewing en die vriendelike mense.
  • Ek hou daarvan om hier te kampeer, te braai, te kuier en vakansie te hou. Ek skreeu graag vir ? Suid-Afrikaanse rugbyspan.
  • Ek hou daarvan om hier kerk toe te gaan en om God in my taal te aanbid en te besing. Ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.
  • Ek kan my taal, Afrikaans, ? inheemse Afrika-taal, hier gebruik en uitleef. Ek is mal oor Afrikaanse musiek en is trots op die Afrikaanse letterkundige skat. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet in hulle moedertaal onderrig word.
  • My familie en vriende woon in Suid-Afrika. Ek is lief vir hulle en wil by hulle wees. In krisistye het ek my familie en vriende nodig en hulle vir my.
  • In die lig van bogenoemde, is my kontrak met my mense dat ek hier gaan bly. Ek maak my agterdeur toe, ek gaan nêrens heen nie en het dus nie ? alternatief nie. Die feit dat ek nie ? alternatief het nie, is my geheime wapen vir ? toekoms in Suid-Afrika.
  • Ek is ’n demokratiese burger, nie ? demokratiese onderdaan nie. Ek gaan dus my demokratiese regte opeis.
  • Ek sal deelneem aan veldtogte om die elektrisiteitskrisis op te los, om misdaad in Suid-Afrika hok te slaan en om my taal te beskerm en moedertaalonderrig te verseker.
  • Ek sal nie hande gevou sit oor onbillike diskriminasie teen my mense in die werkplek nie, en sal politieke inmenging in sport nie duld nie. Ons kan nie toelaat dat grondvergrype plaasvind en dat politieke inmenging misdaadbekamping bedreig nie.
  • Ek sal help om armoede onder my mense te bekamp en om opleidingsgeleenthede vir jongmense te skep.
  • Ek sien Suid-Afrikaners in die buiteland nie as verraaiers nie, maar as ? internasionale netwerk wat ek kan mobiliseer om vir ons wat hier gaan bly, ’n toekoms te help skep.
  • Ek het nie meer tyd om apaties en depressief te wees oor die regering se onvermoë en vir my ? veilige en leefbare omgewing te skep nie. Ek gaan saam met my gemeenskap moue oprol en nie afhanklik van die regering staan nie.
  • Kortweg: ek sal aksies ondersteun en om vir my en my mense ? plek in Suid-Afrika te skep, want ek gaan nêrens heen nie.