Flip Buys November 2009, Solidariteit Tydskrif
Daar is al hoe wyer konsensus dat die Mbeki-regering misluk het en Suid-Afrika op die verkeerde pad geplaas het. Die jongste erkenning hiervan kom van ? invloedryke dinkskrum wat uit verskeie Suid-Afrikaanse en internasionale kundiges bestaan het. Hulle het met die hulp van 30 invloedryke Suid-Afrikaners oor ? tydperk van meer as ? jaar verskeie scenario’s vir die land se toekoms opgestel. Hierdie scenario’s, bekend as die Dinokeng-scenario’s, se vertrekpunt is dat Suid-Afrika nou op die randjie van mislukking staan, maar dat daar met die regte besluite hoop vir die toekoms is.
Die tydsberekening van die scenario’s is veelseggend omdat die beplanning daarvan aan die einde van mnr. Mbeki se termyn begin is, en in die begin van mnr. Zuma se presidentstermyn bekendgemaak is. Hierdie scenario’s kon nie op ? beter tyd uitgekom het nie omdat die regeringswisseling beteken dat die land by ? kruispad staan.
Die studie bied aan die Zuma-regering die geleentheid om die foute van die Mbeki-administrasie reg te stel, solank hulle die politieke wil en die regeringsvermoë het. Die doel van die scenario’s is om aan die regering, sakeleiers, vakbonde en landsburgers te help bepaal waar die land tans staan, waarheen ons op pad is, en wat gedoen kan word om ? beter toekoms te skep.
Dit is veral betekenisvol dat talle ondersteuners van die huidige regering deel van die scenario-groep was, en daarom word verwag dat die regering ernstig aan die studie aandag sal gee. Kallie Kriel van AfriForum was een van net twee Afrikaanssprekendes wat genooi is om deel van die groep te vorm, wat ? aanduiding is van die groeiende invloed van hierdie burgerregtedrukgroep.
Misdaad
Daar is darem al aanduidings dat die Zuma-regering iets aan die grootste krisisse begin doen, al word daar steeds reuse foute gemaak.
Maar waar staan Suid-Afrika op die oomblik? Die bekende ekonoom dr. Johan Willemse sê in ? ontleding van die Dinokeng-scenario’s dat die Suid-Afrikaanse samelewing hom nou in die blok links onder bevind waar die staat korrup en ondoeltreffend is in sy dienslewering en die sake-omgewing wat geskep word.
Die dokument maak ook geen geheim daarvan dat die staatsdiens nie meer die vermoë het om ordentlike diens te lewer nie en dat die samelewing op homself aangewese is, met wantroue teenoor die staat en sy amptenary. Verskeie voorbeelde hiervan word geboekstaaf.
Suid-Afrika sal ernstige sosiale en ekonomiese uitdagings die hoof moet bied, soos werkloosheid, misdaad, armoede, en ? behoefte aan beter sekuriteit, opleiding en gesondheidsdienste. Die uitdagings word vererger deur die ekonomiese krisis wat wêreldwyd heers.
Staatsgeleide ontwikkeling kan nie slaag nie, want die staat het doodgewoon nie die vermoë nie. Die verdere probleem is dat as ? staat bly inmeng en voorskryf met wette, skuif dit die private sektor uit en ? samelewing word geskep wat afhanklik is van ? disfunksionele staatsdiens.
Die land se probleme sal net suksesvol aangepak kan word as die staat, die breë samelewing met sy organisasies en die private sektor aktief saamwerk. Die uitgangspunt moet dan wees om dienslewering te verbeter deur kundigheid te betrek en regeringsamptenare aanspreeklik te hou.
In die scenario van aparte paaie gaan die land op die huidige trant voort. Sake in Suid-Afrika gaan verder agteruit en die staat is ondoeltreffend. In die dokument word reguit gesê die land sal dan sterk op pad wees om te verval in ? mislukte staat, soos elders in Afrika bestaan. Die moontlikheid van onrus, opstande en selfs dele van die land wat deur sekere groepe beheer word, word geskets. Dit is naby aan waar ons tans is.
Die scenario van agternaloop is waar die staat probeer om alles self te doen. Sentrale staatsbeplanning (soos in die kommunistiese stelsel) is aan die orde van die dag. Die probleem is natuurlik dat so ? samelewing nie volhoubaar is nie. Staatskuld bly toeneem en die private sektor word uitgeskuif. Die ondoeltreffende aanwending van skaars hulpbronne lei uiteindelik tot agteruitgang. In dié scenario word voorsien dat die staat al hoe meer outoritêr raak en met wette en mag probeer regeer, wat uiteindelik tot onderdrukking lei.
Die scenario van saamloop word as die wenslikste beskou. Dit beteken dat samelewingsorganisasies aktief met die staat skakel en saamwerk om die land se probleme aan te pak. Dit impliseer egter ? staat wat luister en doeltreffend is, en wat tot verantwoording geroep kan word. Dit impliseer aktiewe samewerking tussen die staat, gemeenskapsorganisasies en die private sektor. Dit beteken ook dat onbevange debat gevoer sal moet word en dat die staat sal moet aanvaar dat hy nie alleen dienste doeltreffend kan lewer nie. Dit sal ? herafbakening van die rol van die staat en nie-staatsinstellings impliseer, maar dit sal sterk en besliste leierskap verg.
Dit is opmerklik dat die scenario-span die linker boonste blokkie oop gelos het, omdat hulle dit nie as ? sterk genoeg moontlikheid gesien het nie. Hierdie blokkie veronderstel ? betrokke burgerlike groep wat ten spyte van ? swak staat vir hulself ? toekoms kan skep. Dit is waarskynlik die grootste leemte van die Dinokeng-scenario’s.
Zimbabwe
Suid-Afrika is baie ver van die Zimbabwe-scenario. Maar nogtans is daar belangrike lesse wat ons daaruit kan leer. Die belangrikste hiervan is dat ons nie op die regering kan wag om vir ons ? veilige toekoms te skep nie. Natuurlik moet ons daarop bly aandring dat die regering hulle pligte nakom en dat ons waarde vir ons belasting kry, maar ons sal ook al meer vir onsself moet begin doen. Ons toekoms is te belangrik om net aan ? regering oor te laat.
Die volledige dokument kan gelees word by www.dinokengscenarios.co.za