Argief vir November, 2009

Fotokompetisie 2 – Suid-Afrikaanse landskappe

Hier is die foto’s wat ons al ontvang het:

Fotokompetisie 2

Nadat die fotokompetisie op BlyNet so ‘n groot sukses was het ons besluit om weer ‘n fotokompetisie te begin. Dieselfde pryse kan weer gewen word. Enigiemand kan aan die kompetisie deelneem, insluitende persone wat aan die eerste een deelgeneem het solank dit net nuwe foto’s is.  Hierdie keer fokus ons slegs op Suid-Afrikaanse landskappe en vra ons dat jy jou mooiste landskapfoto’s instuur.  Stuur foto’s aan daleen@solidariteit.co.za .

Die volgende spesifikasies moet aan voldoen word:
• Slegs elektroniese foto’s kan gebruik word
• Die foto se grootte moet nie 2MB oorskry nie
• Die foto se kwaliteit moet nie laer wees as 300dpi nie
• Jy is welkom om meer as een foto te stuur

Die kompetisie het gesluit op Vrydag , 8 Januarie 2010.

Klik hier om te sien wie die wenners van die eerste  BlyNet-fotokompetisie was.

Suid-Afrika by ‘n kruispad

Flip Buys November 2009, Solidariteit Tydskrif

Daar is al hoe wyer konsensus dat die Mbeki-regering misluk het en Suid-Afrika op die verkeerde pad geplaas het. Die jongste erkenning hiervan kom van ? invloedryke dinkskrum wat uit verskeie Suid-Afrikaanse en internasionale kundiges bestaan het. Hulle het met die hulp van 30 invloedryke Suid-Afrikaners oor ? tydperk van meer as ? jaar verskeie scenario’s vir die land se toekoms opgestel. Hierdie scenario’s, bekend as die Dinokeng-scenario’s, se vertrekpunt is dat Suid-Afrika nou op die randjie van mislukking staan, maar dat daar met die regte besluite hoop vir die toekoms is.

Die tydsberekening van die scenario’s is veelseggend omdat die beplanning daarvan aan die einde van mnr. Mbeki se termyn begin is, en in die begin van mnr. Zuma se presidentstermyn bekendgemaak is. Hierdie scenario’s kon nie op ? beter tyd uitgekom het nie omdat die regeringswisseling beteken dat die land by ? kruispad staan.

Die studie bied aan die Zuma-regering die geleentheid om die foute van die Mbeki-administrasie reg te stel, solank hulle die politieke wil en die regeringsvermoë het. Die doel van die scenario’s is om aan die regering, sakeleiers, vakbonde en landsburgers te help bepaal waar die land tans staan, waarheen ons op pad is, en wat gedoen kan word om ? beter toekoms te skep.

Dit is veral betekenisvol dat talle ondersteuners van die huidige regering deel van die scenario-groep was, en daarom word verwag dat die regering ernstig aan die studie aandag sal gee. Kallie Kriel van AfriForum was een van net twee Afrikaanssprekendes wat genooi is om deel van die groep te vorm, wat ? aanduiding is van die groeiende invloed van hierdie burgerregtedrukgroep.

Misdaad

Daar is darem al aanduidings dat die Zuma-regering iets aan die grootste krisisse begin doen, al word daar steeds reuse foute gemaak.
Maar waar staan Suid-Afrika op die oomblik? Die bekende ekonoom dr. Johan Willemse sê in ? ontleding van die Dinokeng-scenario’s dat die Suid-Afrikaanse samelewing hom nou in die blok links onder bevind waar die staat korrup en ondoeltreffend is in sy dienslewering en die sake-omgewing wat geskep word.

Die dokument maak ook geen geheim daarvan dat die staatsdiens nie meer die vermoë het om ordentlike diens te lewer nie en dat die samelewing op homself aangewese is, met wantroue teenoor die staat en sy amptenary. Verskeie voorbeelde hiervan word geboekstaaf.
Suid-Afrika sal ernstige sosiale en ekonomiese uitdagings die hoof moet bied, soos werkloosheid, misdaad, armoede, en ? behoefte aan beter sekuriteit, opleiding en gesondheidsdienste. Die uitdagings word vererger deur die ekonomiese krisis wat wêreldwyd heers.
Staatsgeleide ontwikkeling kan nie slaag nie, want die staat het doodgewoon nie die vermoë nie. Die verdere probleem is dat as ? staat bly inmeng en voorskryf met wette, skuif dit die private sektor uit en ? samelewing word geskep wat afhanklik is van ? disfunksionele staatsdiens.

Die land se probleme sal net suksesvol aangepak kan word as die staat, die breë samelewing met sy organisasies en die private sektor aktief saamwerk. Die uitgangspunt moet dan wees om dienslewering te verbeter deur kundigheid te betrek en regeringsamptenare aanspreeklik te hou.

In die scenario van aparte paaie gaan die land op die huidige trant voort. Sake in Suid-Afrika gaan verder agteruit en die staat is ondoeltreffend. In die dokument word reguit gesê die land sal dan sterk op pad wees om te verval in ? mislukte staat, soos elders in Afrika bestaan. Die moontlikheid van onrus, opstande en selfs dele van die land wat deur sekere groepe beheer word, word geskets. Dit is naby aan waar ons tans is.

Die scenario van agternaloop is waar die staat probeer om alles self te doen. Sentrale staatsbeplanning (soos in die kommunistiese stelsel) is aan die orde van die dag. Die probleem is natuurlik dat so ? samelewing nie volhoubaar is nie. Staatskuld bly toeneem en die private sektor word uitgeskuif. Die ondoeltreffende aanwending van skaars hulpbronne lei uiteindelik tot agteruitgang. In dié scenario word voorsien dat die staat al hoe meer outoritêr raak en met wette en mag probeer regeer, wat uiteindelik tot onderdrukking lei.

Die scenario van saamloop word as die wenslikste beskou. Dit beteken dat samelewingsorganisasies aktief met die staat skakel en saamwerk om die land se probleme aan te pak. Dit impliseer egter ? staat wat luister en doeltreffend is, en wat tot verantwoording geroep kan word. Dit impliseer aktiewe samewerking tussen die staat, gemeenskapsorganisasies en die private sektor. Dit beteken ook dat onbevange debat gevoer sal moet word en dat die staat sal moet aanvaar dat hy nie alleen dienste doeltreffend kan lewer nie. Dit sal ? herafbakening van die rol van die staat en nie-staatsinstellings impliseer, maar dit sal sterk en besliste leierskap verg.

Dit is opmerklik dat die scenario-span die linker boonste blokkie oop gelos het, omdat hulle dit nie as ? sterk genoeg moontlikheid gesien het nie. Hierdie blokkie veronderstel ? betrokke burgerlike groep wat ten spyte van ? swak staat vir hulself ? toekoms kan skep. Dit is waarskynlik die grootste leemte van die Dinokeng-scenario’s.

Zimbabwe

Suid-Afrika is baie ver van die Zimbabwe-scenario. Maar nogtans is daar belangrike lesse wat ons daaruit kan leer. Die belangrikste hiervan is dat ons nie op die regering kan wag om vir ons ? veilige toekoms te skep nie. Natuurlik moet ons daarop bly aandring dat die regering hulle pligte nakom en dat ons waarde vir ons belasting kry, maar ons sal ook al meer vir onsself moet begin doen. Ons toekoms is te belangrik om net aan ? regering oor te laat.

Die volledige dokument kan gelees word by www.dinokengscenarios.co.za

Die Filosofie professor se pap wiel en die Sondeval – Rapport

Flip Buys

My Filosofie professor was ‘n goeie mens. ‘n Baie goeie mens. Een van díe soort mense wat rooi koeldrank gedrink, spookasem geëet en Hooked on Classics geluister het. Terwyl ek een Vrydagmiddag lomerig na sy vertolking van ‘n “nadenkend sistematiese abstraksie” gesit-lê en luister het, het ek finaal besluit dat hy nog nooit ‘n sondetjie gedoen het nie. Nie net omdat hy baie teen die sonde was nie. Dis nou nadat ek myself onsuksesvol probeer indink het hoe dit sou lyk as hy op ‘n stoel in

Een Vrydag het ons klas byna ‘n halfuur laat begin. Dit was toe Professor en ‘n teologiese student gelyk by die deur bly staan en vriendelik aanhou aandring het dat die ander een eerste moes instap. Sy vertroue in die mensdom was min of meer onbeperk. Dis eintlik hoekom ek stiptelik sy klasse bygewoon het. Ek kon dit nie verdra om sy vertroue in die mens te skok deur nie klas toe te kom nie. Een middag het ‘n gewetenlose skurk sy kar se wiel afgeblaas. Feitlik die hele klas het uit simpatie met hom kom help om sy wiel om te ruil terwyl ons rondom die kar loop en spytige kloekgeluide maak en hardop wonder oor wat besig is om van die wêreld te word. Hy het kop onderstebo gestaan en mompel oor die Sondeval, as ek reg onthou. Toe het ek vir die eerste keer begin bekommerd raak dat die Sondeval nog erger gevolge vir ons sou hê as ‘n pap wiel.

Professor was sterk teen konflik in die wêreld. Hy kon nie glo dat dit soms kon voortspruit uit grondliggende belangebotsings nie. Volgens hom was dit alles net misverstande wat deur openhartige gesprek tussen redelike mense opgelos kon word. Malema, Selebi en Hlope het totaal anderkant sy ideologiese horisonne gelê. Hy was die eerste persoon wat vir ons vertel het van ‘n Rechtstaat, tweede generasie menseregte en die skeiding van magte. Dit was vir almal baie mooi. Ek het ook gedink dat dit beslis kon werk as almal sulke goeie mense soos Professor was. Maar dat die mag van ‘n baasspelerige party al hierdie mooi dinge kon oor-(of op?) donder, het buite die beskaafde debat in sy klas geval. Hy het sommer gou groot oë vir my gemaak as ek sulke dinge vra. Ons Internasionale Politieke klas was vir my meer prakties. Met praktiese oplossings. Daar het ons geleer hoe Afrika werklik is, en nie oor hoe ons hoop dit moet wees nie. Die idealiste in daardie klas was meestal depressief. Behalwe Marthinus. Ek het soms gewens ek het so min soos hy geweet. Hy het altyd só gelukkig gelyk.

Ek wonder of Professor deesdae daar van Australië af nog lees oor wat hier aangaan. Oor wat besig is om van al daardie mooi dinge te word waarvan hy belowe het. Want my kinders bly nog hier.

Reddingsdaadkongres – ? kongres van hoop

Dr. Danie Langner, November 2009, Solidariteit Tydskrif

Arm Afrikaners is nie ? unieke verskynsel nie. Wat wel uniek is, is dat die Afrikaner daarin geslaag het om twee keer in een eeu – ná die Anglo-Boereoorlog en in die dertigerjare – op te staan uit die vernietigende gevolge van armoede. In die soeke na oplossings is dit nou nodig om, 70 jaar later, te midde van ? derde golf van Afrikaner-armoede, iets van die 1939-denkraamwerk van opheffing-deur-opleiding te herontdek en weer toe te pas. Dit is om hierdie rede dat Solidariteit Helpende Hand met 66 ander Afrikaner-organisasies hande gevat het en in Oktober ? Reddingsdaadkongres in Pretoria aangebied het.

Aanvanklik was daar geen eenstemmigheid oor hoe om die groeiende armoede onder die verstedelike Afrikaners te benader nie. Die algemene siening was dat die verarmde Afrikaners self verantwoordelik was vir hulle omstandighede en dat die Afrikaanse kerke die probleem as deel van hulle barmhartigheidswerk moes hanteer. Die Carnegie-ondersoek van 1929 het egter die weg gebaan vir ? nuwe beskouing.

Twee sake wat die Carnegie-ondersoek duidelik uitgewys het, was dat die groeiende armoede nie die verarmde Afrikaners se skuld was nie, maar eerder ? gevolg van politieke, ekonomiese en maatskaplike prosesse waaroor hulle min beheer gehad het. Tweedens het die ondersoek duidelik getoon dat die verarmde Afrikaners wel ongeskoold en ongeletterd was, maar beslis nie dom nie. Die intelligensietoetse wat deur die Carnegie-kommissie gedoen is, het duidelik gewys dat die kinders se intelligensievlakke baie goed vergelyk met die welgestelde deel van die bevolking. Die Carnegie-kommissie het getoon dat die oplossing vir die armoedevraagstuk gesoek moet word in onderwys, industriële vaardighede en werkskepping.

Dr. Malan het die denkraamwerk van die Carnegie-ondersoek verdiep deur daarop aan te dring dat armes gered moet word uit isolasie en weer opgeneem word deur die middelklas. Hy het ook daarop gewys dat die armes nie “as voorwerpe van barmhartigheid” behandel moet nie omdat dit hulle “afdruk in stigma van minderwaardigheid”. Binne die denkraamwerk van opheffing-deur-opleiding is die krag van Calvinisme as ? positiewe en omvattende lewens- en wêreldbeskouing herontdek.

Die besef onder baie Afrikaners het toegeneem dat die armoedevraagstuk slegs suksesvol aangepak kan word indien daar groter samehorigheid en samewerking onder mekaar is. Dit word veral verwoord in die oproep van JD Kestell tot ? “Saamwerk, Helpmekaar en Redmekaar”.

Die verandering in denke word die duidelikste weerspieël in die besluit van die FAK se reëlingskommissie vir die 1939 kongres teen die gedagte dat ? omvattende liefdadigheidplan die uitkoms van die kongres moes wees. Die Afrikaner het besef dat ekonomiese opheffing die belangrikste voorwaarde vir kerklike, kulturele en wetenskaplike voortbestaan is. Prof. Grietjie Verhoef beskryf die nuwe benadering as ? besigheidsfilosofie eerder as ? oproep tot opheffingswerk: “Die fokus het verskuif vanaf ? verwagting dat die owerheid op nasionale vlak moes ingryp om te red, na ? rasionele, doelgerigte selfbemagtigingsprogram van die vestiging van eie besighede waardeur ekonomiese doelwitte verwesenlik kon word.”

Die denkraamwerk waarin die Eerste Ekonomiese Volkskongres plaasgevind het, het neerslag gevind in konkrete besluite wat geneem en uitgevoer is. Afrikanerkoopkrag en kapitaal is gemobiliseer en belangrike instellings soos die Afrikaanse Handelsinstituut en die Reddingsdaadbond is gestig.

Min Afrikaners het ná 1994 voorsien dat die toepassing van regstellende aksie, ideologiesgedrewe transformasie en die staat se maatskaplike benadering die Afrikaner in ? derde armoedekrisis sou dompel. Die gevolge van die armoedekrisis is net so verwoestend soos die vorige twee armoedevraagstukke en het ook die potensiaal om die Afrikaner geestelik, ekonomies en kultureel te laat doodbloei. Die verwronge en valse persepsie wat deur Mbeki se tweenasie-ideologie geskep is, naamlik dat wit mense ryk is en swart mense arm is, is reeds herhaaldelik as verkeerd bewys.

Die sleutel tot die suksesvolle aanpak van armoede bly nog steeds goeie onderwys, doelgerigte vaardigheidsopleiding waardeur kinders uit Afrikaanse gemeenskappe deel word van die ekonomiese hoofstroom, ? gesindheid van helpmekaar en samewerking, asook die versterking van die middelklas. Hierdie oplossings is reeds histories as suksesvol bewys en moet nou in eietydse konteks nuut toegepas word.