Suid-Afrikaners van 352 dorpe regoor Suid-Afrika het op 19 Mei 2010 hulself in rooi getooi en deel geneem aan Solidariteit se landwye dag van protes teen misdaad. Hierdie was die grootse protesaksie nóg teen misdaad en memorandums is aan polisiestasies in verskeie dorpe en stede oorhandig. Volgens Solidariteit is dit die meeste memorandums wat nóg op een dag in Suid-Afrika oorhandig is en die grootste protesaksie teen misdaad tot nou toe. In Pretoria het sowat 1 500 mense saamgetrek en 27 memorandums is aan polisiestasies in dié stad oorhandig. In die Wes-Kaap is 75 memorandums oorhandig in dorpe soos Bellville, Beaufort-Wes, Hermanus, Franschhoek en Montagu. In die groter Johannesburg-streek alleen is 42 memorandums oorhandig, in KwaZulu-Natal 26, in die Vrystaat 22 en in Mpumalanga en Limpopo 55. Die memorandums is gerig aan die regering, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en besighede. In die memorandums is onder meer geëis dat privaat uitgawes wat vir misdaadvoorkoming aangegaan word voortaan aftrekbaar van belasting moet wees.
“Die regering se onvermoë om sy burgers te beskerm, het tot gevolg dat hulle uitgawes moet aangaan om hulself te beskerm. Hulle word dus in praktyk dubbel belas. Dit is derhalwe billik dat uitgawes wat vir privaat beskerming aangegaan word van belasting afgetrek moet word,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.
Die memorandum eis ook van die regering om meer hulpbronne, met die fokus op opleiding aan die SAPD, beskikbaar te stel. Daarbenewens word daar onder meer van die SAPD geëis om die moratorium op die aanstelling van reserviste in praktyk op te hef. Verder word ʼn beroep op besighede gedoen om gemeenskappe by te staan met misdaadsvoorkomingsveldtogte.
Leerlinge van skole in Linden, Roodepoort, Pretoria, Hartbeespoort en verskeie dorpe in die noorde van KwaZulu-Natal het vandag rooi T-hemde of rooi linte skool toe aangetrek ter ondersteuning van die protes teen misdaad. Talle klein en medium sakeondernemings het ook tussen 13:00 en 14:00 toegemaak ter ondersteuning van die protesaksie.
“Ons het besluit om eerder honderde klein groepies in gemeenskappe te vorm om die memorandums te oorhandig as om ʼn paar groot saamtrekke te hou. Misdaad tref nie net enkele groot stede nie, maar elke klein gemeenskap. Ons het besluit dat daar teen misdaad geprotesteer moet word daar waar misdaad is, en dit is in alle gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika.”
“Suid-Afrika mag nooit toelaat dat misdaad ʼn normale deel van die samelewing word nie. Om te wys misdaad is abnormaal, moet ons daarteen protesteer word. Ons het egter nie net geprotesteer nie. Ons wil ook deur die protesaksie ʼn oproep tot gemeenskappe doen om in samewerking met die SAPD betrokke te raak by gemeenskapsbeveiligingaksies. As ons daarmee suksesvol is gaan Suid-Afrika ʼn veiliger plek na 19 Mei wees,” het Hermann gesê.