Solidariteit, 26 Januarie 2011
Bonusse vir bestuur, maar geen verhoging vir Bell-werknemers
Die vakbond Solidariteit het vandag Bell Equipment, die grootste vervaardiger van masjinerie vir die landbou-, mynbou- en konstruksiesektor in Suid-Afrika, daarvan beskuldig dat sy optrede werknemers hier vervreem en finansieel laat swaarkry. Solidariteit hoop nou om in ʼn dringende gesprek met die maatskappy te tree om hierdie probleem aan te pak.
Solidariteit se beskuldigings volg in reaksie op die maatskappy se herhaaldelike optrede wat nie in die finansiële belang van werknemers is nie. Bell het reeds die afgelope twee jaar aansoek om kwytskelding van loonverhogings in die bedingingsraad vir die metaal- en ingenieursbedryf (MEIBC) gedoen en gevolglik het werknemers hier in 2008 laas loonverhogings ontvang. Daarbenewens is geen dertiende tjek verlede jaar of in 2009 aan werknemers uitbetaal soos in die verlede nie.
Volgens Ilze Nieuwoudt, Solidariteit-woordvoerder, het hierdie kwessie nou te ver gegaan. “Bell het die golf van die resessie tot die uiterste gery om voordeel daaruit te trek. Die ekonomiese insinking is as argument vir die kwytskelding van die MEIBC-loonverhogings misbruik. Dié aansoek om kwytskelding is twee maal goedgekeur en dít terwyl die maatskappy self erken dat hy in die eerste helfte van 2010 wins getoon het. Intussen moes werknemers steeds aan die agterspeen suig,” verduidelik Nieuwoudt.
Solidariteit-lede by Bell het reeds aangetoon dat hulle eenvoudig nie meer met die styging in lewenskoste kan byhou nie. “Hoewel inflasie tans teen ʼn stadiger tempo as byvoorbeeld ʼn paar jaar gelede styg, is daar sekere kategorieë in die inflasiemandjie wat steeds skerp stygings toon. Mediese inflasie se gemiddeld vir 2010 was 7,5%, terwyl die Raad op Mediese Skemas onlangs aangedui het dat mediese fondse se premies met tussen 5,6% en 16% gestyg het vanaf verlede jaar,” sê Nieuwoudt. Daarbenewens het die koste van opleiding ook aansienlik gestyg sedert 2010. Die koste van opleiding by die grootste universiteite het vanjaar byvoorbeeld met tussen 8% en 11% gestyg teenoor die koste in 2010. Skoolfooie het intussen in 2010 met gemiddeld12% en in 2011 met gemiddeld 10% gestyg. Daarbenewens plaas die styging in die koste van elektrisiteit bykomende druk op verbruikers.
“Dit is hieruit duidelik dat die lewenskoste van die gemiddelde werknemer in die afgelope twee jaar aansienlik gestyg het en dat werknemers se salarisse lank al nie meer markverwant is nie en dringend herstel moet word,” meen Nieuwoudt.
Intussen het Bell aangedui dat hy een van die eerste maatskappye in die sektor is wat werklik na die resessie kon herstel. “Die maatskappy toon ook aan dat hy besluit het om vaardighede te behou in dié tyd, maar intussen word daar nie na die werknemers se finansiële behoeftes omgesien nie,” sê Nieuwoudt.