Argief vir March, 2011

Hoërskoolleerlinge maak hul “Punt” in liriekskryfkompetisie

Leerlinge van regoor Suid-Afrika sal nou as deel van die Solidariteit Tydskrif Punt-liriekskryfkompetisie hul punt maak. Dié opwindende veldtog wat deur die ledetydskrif van die Solidariteit Beweging in samewerking met SyAn Productions en Electro Groove Studios gevoer word, word vanjaar vir die eerste keer aangebied en sal hoërskoolleerlinge die kans bied om hul sê kreatief en met mening in Afrikaans te sê.

Die kompetisie beoog om duisende Afrikaanse hoërskoolleerlinge met trots te laat soek na hul Afrikawortels. Volgens dr. Dirk Hermann, redakteur van Solidariteit Tydskrif en adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is die tema van vanjaar se kompetisie ‘Basta! Ons voetspore is in Afrika’. Die tema spruit voort uit die gelyknamige boek deur Hermann wat in 2010 bekendgestel is en die geskiedenis van die Afrikaner ondersoek.

“Die idee is dat jongmense na hul wortels sal gaan soek en uiteindelik met trots kan sê: ‘Afrika en Suid-Afrika is mý tuiste. Ek hóórt hier!’,” verduidelik Hermann. “Ons hoop om deur die Punt-kompetisie op ʼn positiewe manier ʼn liefde vir hul herkoms en kultuur by jongmense te help kweek.”

Hermann word ondersteun deur die nuwe sangsensasie Andries Hendrik Potgieter, wat ook die gesig en stem van die veldtog is. Potgieter is ʼn direkte nasaat van die Voortrekkerleier, Andries Hendrik Potgieter, wat ook sy merk in Suid-Afrika se geskiedenis gelaat het. “Nes my grootjie wil ek ook nuwe grondgebied inneem. Nie deur nuwe dorpe en stede op te rig nie, maar deur jongmense opgewonde oor hulle herkoms en toekoms te maak,” sê hy.

Die 12 beste inskrywings sal getoonset word deur die bekende liedjieskrywer en musikant Waldo Greeff. Greeff het reeds twee Tempo-musiektoekennings agter sy naam vir sy liedjie Is dit jy? (gesing deur Andriëtte Norman) wat deel was van die Huisgenoot liriekskryfkompetisie. Die wenliedjies van die Punt-liriekskryfkompetisie sal tesame met vanjaar se temalied, Basta, op ʼn CD opgeneem word en in November vanjaar uitgereik word. Alle liedjies sal gesing word deur Andries Hendrik Potgieter. Die skrywer van die wenlied sal boonop ook R5 000 in die sak steek.

Die kompetisie word op Maandag, 14 Maart 2011 amptelik by die Hoërskool Waterkloof in Pretoria bekendgestel. Hiertydens sal die sanger Andries Hendrik Potgieter die temalied Basta sing en die musiekvideo van die lied bekendstel.

Die media word uitgenooi om die geleentheid by te woon:

Datum: Maandag, 14 Maart 2011
Tyd: 08:00
Plek: Hoërskool Waterkloof, h.v. Boeingstraat en Hans Strydomrylaan, Erasmuskloof

Kompetisiereëls:

-       Die kompetisie is oop vir alle hoërskoolleerlinge.
-       Inskrywings is gratis.
-       Die kompetisie sluit op 13 Mei 2011. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
-       Daar is nie ʼn beperking op die aantal inskrywings nie.
-       Inskrywings moet in Afrikaans wees.
-       Stuur inskrywings na punt@solidariteit.co.za. Jou naam, van, ouderdom en die naam van jou skool moet die inskrywing vergesel.
-       Lirieke sal deur die sanger Waldo Greeff getoonset word, en dus hoef inskrywings slegs die lirieke te bevat.
-       Enige lirieke waarin tekens van plagiaat voorkom sal summier gediskwalifiseer word.
-       Alle lirieke word die eiendom van Solidariteit Tydskrif.
-       Die boek Basta! Ons voetspore is in Afrika, is as basis vir die temalied Basta gebruik. Belangstellendes kan dié boek as basis vir hul eie lirieke gebruik. Die boek word uitgegee deur Kraal-Uitgewers. Belangstellendes wat die boek deur die kompetisie teen R90 aankoop kry ook ʼn handige skryfgids gratis. Stuur ʼn e-pos aan akoster@solidariteit.co.za om die boek te bestel.

Meer oor Andries Hendrik Potgieter

Andries Hendrik Potgieter is die jongste afstammeling van die groot Voortrekkerleier met dieselfde naam, maar hoewel die hedendaagse A.H. Potgieter stewig met sy voete in die vermaaklikheidsbedryf staan, het hy ook ʼn sterk liefde vir Afrikaans en sy Afrikaner-herkoms. Met hierdie sterk verbintenis met een van die grootste name in die Afrikaner se geskiedenis, is Andries die ideale sanger van die twaalf wenliedjies wat deur die Solidariteit Tydskrif Punt-liriekskryfkompetisie aangewys sal word. Die temalied, Basta, is reeds opgeneem en sal binnekort op radiostasies en musiekkanale gespeel word.

Andries is tans onder meer aan die stuur van die Stand as One-projek wat in samewerking met verskeie gospel-sangers soos Nedine Blom, die Soweto Gospel Choir en jeugkore van regoor die land aangebied word. Die projek is daarop gefokus om spesifiek na die jeug uit te reik. Dié CD word eersdaags op 24 Maart by Laerskool Magalieskruin in Pretoria bekendgestel.

Andries se eerste solo-album sal ook later vanjaar die lig sien met die lied Ons huis is hier wat na verwagting die Afrikaanse musiekmark sal stormloop. Die lied is ook op die Stand as One-CD beskikbaar wat voor die einde van die maand op die rakke sal wees.

Besoek ook www.andrieshendrikpotgieter.com en www.standasoneproject.com vir meer inligting.

Wenner van die Valentynsdag kompetisie!

BlyNet kompetisie

BlyNet het ʼn opwindende nuwe kompetisie net vir BlyNetters. As jy ʼn BlyNetter is en trots is op jou land en jou erfenis, is die kompetisie vir jou.

Valentynsdag is om die draai en dis die ideale geleentheid om vir ons te vertel hoekom jy verlief is op Suid-Afrika.

Skryf vir ons ʼn gedig of opstel oor ons mooi land en hoekom jy kies om hier te bly.

Jy staan die kans om ʼn vakansie vir 3 nagte in Margate te wen.

Die beste gedig of opstel sal ook op Wêreldwyd op Woensdag op www.solidariteitradio.co.za uitgesaai word.

Die sluitingsdatum is 28 Februarie, so maak seker dat jy nie die kans misloop nie. Stuur jou inskrywing na: heleen@solidariteit.co.za.

Ons het ʼn wenner vir die Valentynsdag kompetisie!

Baie geluk aan Jaconette Lewis wat vir ons so pragtige opstel geskryf het. Jy wen ʼn vakansie vir 3 nagte in Margate.

Baie geluk

MY hart klop sissend warm vir Suid-Afrika.

Sss…sis die boerewors op die braaivleiskole. Die vuurtjie knetter en kraak. Ek kyk na die gesigte rondom my en besef waarom ek Suid-Afrika vir niks wil veruil nie.

Ek kyk vir Dik Daan van die plaas Donkiedraai. Hierdie gesette seun met die khakieklere en die velskoene is heel op sy gemak om die vuur, want hy het op ‘n plaas doer diep in die Karoo grootgeword. Die Karoo met sy pragtige tongknoop blomme wat soos ‘n laslappiekombersdie veld versier; Kappertjies, Piet-my-vrou, Loslyfies, Gesiggies…. prentjieblomme.

Jaap van die Kaap lyk egter nie so tuis naby die knetterende vuurtjie nie. Hy is meer gewoond aan die Kaapse visbraaie wat beslis minder vlamme om die lyf het. Op sy gesig kan ek duidelik die gevolg van baie ure se son sien – golfry in skuimende branders, rondsit op skitterwit strande… Die Berg met sy miswolk tafeldoek is deel van sy menswees. Hy klim elke week tot bo en kyk ver uit oor die moederstad wat so baie van Suid-Afrika se geskiedenis teen sy rotse koester. Die Kaapse “bhgy” val sag op ons ore as Jaap van sy bergklim avonture vertel.

Michelle van Mpumalanga het ‘n skitterwit kosmosblom in haar hare gesteek vir hierdie kampvuur-kuiergeleentheid. Sy bly in ‘n klein plattelandse dorpie op die Hoëveld. Daar waar kinders nog in die strate kan speel en met hul fietse resies jaag oor die grasvlaktes. Daar waar ruimte is. Daar waar die Kosmosse die vaal veld in ‘n blomtuin omtower. Bosse van hierdie pienk, wit en pers prag pryk gereeld in haar ouerhuis.

Kisha van KwaZulu-Natal wil opsluit net bietjie geur aan die sissende boerewors gee met haar verskeidenheid sakkies en pakkies vol speserye. Kisha se ouers is diep gelowige Indiërmense wat hul eie speseryewinkel in Durban besit. Durban – die stad waar tyd nooit stilstaan en die son nooit ophou skyn nie. Mense skarrel, lag en kuier. Durban met sy sonsoeklywe op goue strande, sy reuse hawe waar skepe kom en gaan. Waar die Rikshas met hul oordrewe hooftooisels toeriste op die parade rondkarwei. Durban pols!

Ben van die Bosveld is die aardse ou onder die groep, doodluiters en op sy gemak langs die knettervuurtjie – ‘n Bosveldboorling in murg en been. Van jag kan jy hom niks leer nie. Sy uitgetrapte velskoene en rooigebrande neus getuig daarvan. Die Bosveld met sy wilde diere – leeus, bokke, kampeelperde…. Ben weet van boerewors braai, biltong maak en baklei.

Die son sak stadig oor die koppies. Indie verte vonkel stadsliggies. Om my daal rustige stilte saam met die skemer neer. Ek drink die gelag en gesels om my in. Ek voel die Afrika ritme in my pols… 

Ek besef – net soos ons eie tradisionele boerewors uit verskillende bestanddele gemaak is, net so is Suid-Afrika uit verskillende dinge saamgestel. Ek kan nie glo daar is mense wat dit selfs oorweeg om my boereworsland te verlaat nie!

MY hart klop sissend warm vir Suid-Afrika.