Basta! Ons voetspore is in Afrika

Desember 2010

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het pas ʼn nuwe boek, Basta! Ons voetspore is in Afrika, uit sy pen laat verskyn. Die boek is in die vorm van ʼn brief aan sy vier dogters geskryf. Hy vertel die Afrikanerstorie vanaf 1657 tot vandag aan die hand van sy familiestorie.

In die brief aan sy dogters skryf Hermann oor hulle plek in Afrika. Hy skryf dat die polities gelaaide beeld van die Afrikaner nie aanvaar moet word nie. Hy wil sy dogters bevry van skewe geskiedenisbeelde deur aan hulle hul familiestorie te vertel.

Om die skewe geskiedenis reg te stel, maak hy die geskiedenis lewendig deur te vertel van agteroupagrootjie Hans se bootreis na Afrika in 1657 en hoe hy deur ʼn leeu opgeëet is. Hy vertel oor die ontberings van die Groot Trek en die smarte van die Boere-oorloë. Sy oumagrootjie is dood in ʼn konsentrasiekamp en sy ouma het die konsentrasiekamp oorleef. Hy vertel van sy oupagrootjie se ontberinge as banneling en die opstaantyd na die oorlog. Sy pa vertel die storie van apartheid en hyself vertel oor sy eie Afrikaneridentiteit na 1994. Hy sluit die boek af met ʼn uitdaging oor sy Afrika-identiteit. Oor die Afrikanerstorie en die van sy familie sê hy: “Basta, ons voetspore is in Afrika”.

Die boek is veel dieper as ʼn familiestorie. Dit is ʼn boek oor Afrikaneridentiteit na 1994. Die boek is ʼn uitdaging aan almal wat die Afrikaner se geskiedenis wil kriminaliseer. Die boek maak die geskiedenis van die Afrikaner vir veral jongmense lewendig. Dit vertel die Afrikaner se verhaal aan die hand van die lewe van gewone mense. Jongmense en alle Afrikaners word uitgedaag om hulle Afrika- en Afrikaneridentiteit in die moderne era te herontdek. Hermann skryf dat hy hoop dat Basta! Afrikaners sal motiveer om hulle voetspore in Afrika te soek.

Die boek behoort ʼn debat oor Afrikaneridentiteit na 1994 te ontketen. Dit sal weer die gesprek oor Afrikaners se plek in Afrika losmaak en weer die lig laat val op, soos president Jacob Zuma hulle noem, die “wit stam van Afrika.”

Basta! Ons voetspore is in Afrika kos R95 en word deur Kraal-Uitgewers uitgegee.

Die boek kan bestel word deur die woord “Basta” na 34388 te SMS.