Argief vir die 'Artikels' Kategorie

Oorleef só in Suid-Afrika

Deur Carla van der Spuy

Suid-Afrikaners word deesdae van alles behalwe hul (galge)humor beroof

Dit help nie meer om teen die prikkels van swak diens, loodswaai en roofpryse te skop nie. Skaf eerder ‘n  “oorlewingsnoodhulpkissie” aan en laat dit die pioniersvrou in jou na vore kom.

Volg die volgende tong-in-die-kies wenke en ons waarborg jou dat jy nooit sal terugkyk nie.

By die huis:

Hou ‘n indrukwekkende versameling kerse aan. Jou liefdeslewe gaan ekstra woema kry as jy jou wederhelf elke aand met ‘n kersligete verras. Dit wat met die nuutgevonde romantiek gepaardgaan is glo boonop verslankend. Danksy kragonderbrekings kan julle mekaar weer herontdek. Dit is natuurlik net voordelig as die donker julle oorval wanneer hy na sy vervelige sportprogramme kyk en nie as jou gunstelingsepie op die lug is nie. Caroline Hurry, ‘n vryskutjoernalis en skrywer van Handbook for the Huntress sê danksy die talle kragonderbrekings braai sy en haar man gereeld hul aandete en sing na die tyd uit volle bors ‘n duet saam eerder as om hul tyd voor die televisie te mors soos die geval in die dae van betroubare elektrisiteitstoevoer was.

Van vleisbraai gepraat – sleep jou braaier sommer sitkamer toe want dit raak al gevaarliker om buite te kuier. Die knus huislikheid van ‘n binnenshuise braai sal gou die spreekwoordelike vlam vat – maar hopelik is jou Persiese mat nie in die gedrang nie. Jy kan ook piekniek in jou huis hou en sommer jou sekuriteitsmense oornooi.Hou dik interessante boeke tuis aan terwyl jy, as jy gelukkig is, twee weke lank vir die Polisie wag om ‘n verklaring te neem nadat by jou ingebreek en jou huis leeggedra is. Die kanse is goed dat dit een of ander tyd in dié tydperk met ‘n kragonderbreking sal saamval want daar gaan selde twee weke verby sonder dat duisternis ons oorval.  Hou in elk geval goeie boeke aan, selfs al lees jy dit nie, want sou jy in jou eie huis vermoor word kan jy mense vir oulaas met jou breë algemene kennis beïndruk.

Drink meer bier en minder water. Almal weet ons drinkwater is besoedel. Liewer ‘n bierpens as voedselvergiftiging en om die lewensbedreigende risiko te loop om in ‘n hospitaal opgeneem te word.
Neem spesiale versekering uit om jou telefoonrekening  te betaal.
Hang vir elke hond ‘n noodknoppie om sy nek wat deur sy blaf geaktiveer word
Verras voornemende inbrekers, is die webtuiste www.comedyclub.co.za se raad. Maak jou huis vol hoenders. Die inbreker sal ongemaklik voel en dadelik padgee.

Op die pad:

Ry in ‘n ou skedonk rond sodat jy hopelik in die geval van ‘n kaping slegs aan “appy” kapers uitgelewer is wat so onervare en senuweeagtig is dat hulle net jou kar en hopelik nie jou kop sal eis nie.  Los jou BMW in jou motorhuis. Sluit die motorhuis se deur slegs oop as vriende kom kuier en jou Rotweilers en skoonma in die omtrek is.  So kan jy hulle nog steeds met jou aardse skatte beïndruk – wel, die wat nog nie weggedra is nie.

Beskou stoptekens as toegeetekens as jy verdagte figure langs die pad gewaar.  Dis goedkoper om ‘n boete te betaal as om ‘n kar te vervang.

Koop ‘n groot lewensgetroue opblaaspop wat jy in jou passasierssitplek vasgordel as jy as vrou dalk alleen in die nag moet rondry. Draai gereeld na “Koos” toe so asof jy in druk gesprek met hom is sodat die boewe moet dink dat jy geselskap het. Dit sal in elk geval heerlik wees om ‘n monoloog te voer sonder dat jy onderbreek word.

Karwei jou eie bloed oral met jou saam sodat jy darem veilige bloedoortappings kry as jy in ‘n motorongeluk is. Niemand sal jou vir Dracula aansien nie. Dis in elk geval te betwyfel of hulle al van hom gehoor het.
Nog ‘n wenk van www.comedyclub.co.za is om eienaardig aan te trek as jy uitgaan. Iets in die lyn van Hompiekedompie kan nogal die ding doen. Boewe sal jou te vreemd vind om jou te wil aanval. Alternatiewelik kan jy voorgee dat jy self ‘n misdadiger is.

Sanger Riku Lätti ook bekend vir sy Zimdollarnuus wat per e-pos uitgestuur word, raai minderheidsgroepe ten sterkste af om in BMW’s vas te ry. Jy kan dalk as ‘n rassis gebrandmerk word. Hy is verder daarvan oortuig dat ‘n Daantjie Kat kursus om ‘n beter begrip van taxis te verkry ook ‘n aanwins kan wees. ‘n Voorbeeld daarvan is dat “hazards” een van duisende goed kan beteken wat insluit; “Ek mag dalk nou regs of links draai, stilhou of sommer net aanhou ry maar almal weet dit beteken eintlik ek gaan die padwet binne die volgende oomblike op besonder kreatiewe wyse verbreek.”
Riku beveel ook aan dat motoriste in ‘n opblaas monopolystel belê wat ‘n mens kan help om menige ledige uurtjies te verwyl terwyl jy op die N1 van Pretoria af Johannesburg toe by Allandale in die verkeer vassit.

Moet nooit die huis verlaat sonder ‘n rol note wat jy saam met jou bestuurslisensie kan optower; sou die geleentheid dit vereis nie. Wees oopkop.
Wees altyd gaaf met motorwagte. Jou kar is dalk niks werd nie maar die kanse is goed dat jou ryding vir die duur petrol in die tenk gesteel word. Dink net daaraan hoe groot die verrassing gaan wees as jou kar nog op presies dieselfde plek staan waar jy dit tien minute gelede gelos het.
As jy Drakensberge of see toe ry vir ‘n welverdiende vakansie moet jy sorg dat jou begroting vir verkeersboetes, tol- en of omkoopgeld minstens dié van jou verblyf ewenaar. Moenie slaap daaroor verloor as jy ‘n paar maande agter raak met die betaling van die skoolfondse nie. Hulle mag jou kind nie uitskop nie

By winkels en rekeningafdelings:

Belê in ‘n opslaanstoel, piekniekmandjie en thermosfles as jy jou elektrisiteitsrekening gaan betaal of banksake doen. Die kanse is goed dat jy twee maaltye kan misloop terwyl jy in die tou staan.

Neem ‘n steungroep saam as jy die kitsbank besoek.
Dra nagemaakte Russiese gewere oor jou skouer en skoene met sole wat die hel uit mense sal skok as jy na hulle skop
Comedyclub raai motoriste aan om altyd in geen-toegang zones te parkeer. Jou kar mag dalk weggesleep word maar dis darem beter as wat dit gesteel word. Vir ‘n verdere voorsorgmaatreel kan jy die deure permanent sluit deur supergom te gebruik. Jy sal nou wel toegang na en van jou kar deur die kattebak moet verkry maar die booswigte sal sukkel om in te kom.

Allerlei:

Maak meer gebruik van koeriers al is die kanse darem 50 persent dat jou posstuk op die tradisionele manier sy  bestemming bereik
Sorg dat jy altyd sonbrandolie by jou het vir ingeval die klere van jou lyf gesteel word. ‘n Ekstra selfoonbattery kan ook handig te pas kom.
Caroline se ervaring is dat ‘n mens baie geld op manikure kan bespaar terwyl jy sonder ‘n landlyn sit. Sy kou sommer self haar naels af terwyl sy stres oor nog ‘n spertyd waarby sy nie kan hou nie. Gelukkig kan die redakteurs haar nie op haar selfoon in die hande kry nie omdat dit – danksy kragonderbrekings – gewoonlik pap is
Om die “backtrack era” in musiek te oorleef koop al meer mense nou Afrikaanse “kunstenaars” se musiek om te hoor of die CD ook so vashaak soos die geval in hul verhoogoptredes die geval is
Al die chaos het darem ook voordele. Riku glo dat belasting beslis gaan daal as gevolg daarvan dat die Staat moeg is vir die feit dat mense goed wat van hulle gesteel is vir belasting aftrekkings invul.
“Die Staat moet dalk oorweeg om ‘n maksimum gesteelde goederetoelaag in die belastingvorm in te werk,” is sy raad
Wees dankbaar vir die wye betekenis wat aan die woord “binnekort” verleen word.  Dit kan enigiets van ‘n paar minute tot ‘n paar maande beteken. Moet jou nie daarteen verset nie. ‘If you can’t beat them, join them. Go with the flow.” Wil jy ‘n hartaanval oor iets so sinneloos soos tyd kry? Dis net water wat ‘n mens nie mors nie
Sorg dat jy nooit ‘n ernstiger siekte as waterpokkies of verkoue kry nie sodat jy nie in ‘n staatshospitaal opgeneem hoef te word nie. Sou so ‘n ramp jou tref,  huur dan ‘n sleepwa of bakkie sodat jy jou eie linne, kos, toiletpapier, matras en nog vele kan saamneem. Huur ook ‘n gespierde veiligheidswag om jou op te pas en by jou saal wag te staan sodat jy nie in jou hospitaalbed beroof/verkrag/aangerand/vermoor word nie.
Leer goed swem. Dis glad nie vergesog dat drenkelinge deur weldoeners wat hul as menseredders voordoen van die min wat aan hul bas is beroof word nie
Sou jy of jou kind ‘n eksamenvraestel dop is dit nie nodig dat jou kop uithaak nie.  Behou jou waardigheid. As jou eksamenvraestel verskil van die een wat jy gekoop of gesteel het – eis eenvoudig jou geld terug en maak die aangeleentheid by die departement van onderwys aanhangig. Staan op jou regte
Bars dit dalk om weens regstellende optrede ‘n werk in die formele sektor te kry, is daar altyd die wonderlike wetenskap van geneaologie. Met genoeg deursettingsvermoë behoort jy iewers tussen jou voorsate ‘n Hugenoot of Hollander te kry wat met ‘n “vryswarte” of slavin getroud was. Met ‘n bietjie geluk is daar dalk iewers ‘n Morewa of Tshababala onder jou voorvaders wat vir jou die deur na werksgeleenthede wyer kan oopswaai.

Het in Vrouekeur verskyn.

Moenie mag van ‘die min’ miskyk

Jaap Steyn
Beeld, 24 April 2008

Laai die artikel af

Die groot vraag is: Wat doen jy daaraan?

Die Burger Oos-Kaap
18 April 2008

Laai die artikel af

 

 

Wat sê ons lesers?

Uittreksels uit kommentaar van Rapport-lesers.

Nêrens in die ou tuislande van ons voorvaders sal ons kan vind wat ons hier ons eie gemaak het nie. Ons is kinders van Afrika. Ek bly. – Derick Streak

Ek bly omdat ek graag Rapport se growwe papier Sondae onder my vingers wil voel en nie aanlyn hoef te lees nie en om ’n verskil te kan maak aan iemand se lewe wat nie kan wegvlug nie, al wil hulle. – Billy Scholtz

Ek was al in baie lande, maar ons land se mense, humor, glimlagte en menswees is net anders. Ons son, wind, reën, see, berge, vlaktes prikkel ’n mens se siel, stimuleer jou geloof en bou jou liefde vir die onderste hoekie van Afrika. Ek bly. – Leon van Wyk.

Ek is hier gebore en ek sal hier begrawe word – maak nie saak wat nie. Dis my land ook. – Christa de Wet.

Ek is tans vir my agste maand van ’n kontrak vir twee jaar in die Midde-Ooste. Hier is die diens net so swak as elders; bestuursvernuf bestaan nie; mense is lui. Nee wat, ons bly in Suid-Afrika. Ons tel die maande af. – Helga van Wyk.

Suid-Afrika was goed vir my. Ons kan nie net oorgee en weggee nie. My bydrae sal ek lewer op elke gebied wat ek kan. Ons vir jou Suid-Afrika.– Ben White.

My bydrae sal wees deur my geloof en my God en ander deur die geloof te lei om ’n stabiele Suid-Afrika tot stand te bring. – Letitia

As patriotisme die laaste uitweg van ’n dwaas is, dan is ek een. Ek sal hier bly totdat die laaste kers uitgeblaas word. – Dawid

Ek is van Afrika, in Afrika, vir Afrika. Ek is inheems aan Afrika, al is my vel wit, want ek is hier gebore. My mense is ook hier gebore en begrawe. Ek gaan nêrens heen nie. – Johannes de Koning

Om landuit te vlug kom neer op Afrikaner-selfmoord. Dankie, Solidariteit. Julle is ’n liggie in die duister. – Sulet van der Bergh

Ek is net ’n ou tannie, maar ek het hard gewerk in hierdie land. Ek bly hier en ek sal my mening lug waar en wanneer ek wil. – Ryan Austin

Hierdie is die beste land. Weghardloop is nie ’n opsie nie. – Koos Nel

Vele buitelandse besoeke bevestig oor en oor dat Suid-Afrika, selfs met sy probleme, die wonderlikste, lekkerste, mooiste land met onbeskryflike geleenthede ter wêreld is. – Albert Venter

Ons lafaards en verraaiers sit hier in die verte en wag vir die 46 stigters van BlyNet om die land reg te ruk sodat ons kan terugkom en deel in die nuwe Suid-Afrika – ’n geweldlose utopie met wonderlike geleenthede vir ons kinders. Julle is helde, al weet ons nie wie julle is nie. – Marius Viviers

Formuleer vir ons oud-Suid-Afrikaners metodes wat ons kan gebruik om te help. – Bokkie in Florida

Staan jul families in Suid-Afrika by wat sukkel. Dit is ’n praktiese manier om dinge beter te maak. – Emiel

Terwyl daar teen ons kinders gediskrimineer word, ons ou mense wreedaardig vermoor word en ons kulturele erfenis afgeskeep word, is hierdie halfhartige verklaring die beste waarmee daar vorendag gekom word. Solidariteit mors ons tyd met hierdie foefie. – Wynand

Die Titanic hel gevaarlik oor terwyl hierdie welmenende groepie vir ons musiek maak. Julle word lekker gevang. Ons leef goed in Kanada, waar ons werk waardeer word en meriete belangrik is. – Gustav

Sal interessant wees hoeveel van die 46 “prominentes” bly oor ’n jaar. Help Suid-Afrika verander? Asseblief. Afrika se geskiedenis tel teen jou. – André

Ons mense in die buiteland het ’n verantwoordelikheid teenoor ons geboorteland en ek ondersteun so ’n aksie. Dis ’n stap in die regte rigting. – Henri

Ek is in ’n beter posisie om Suid-Afrika vanuit Brittanje te help waar ek R50 000 verdien teenoor R7 000 in Suid-Afrika. – Wynand van Taiwan

Vreeslik eenvoudig. Bly vir jou BMW, huishulp en timeshare in Margate. Ry vir jou kinders se lewe en toekoms. – Oompie

As ek so kyk na die geesdriftige blyers, het ek onmiddellik gegly, want met sulke blyers gaan ons in groot moeilikheid wees. – Jannie se gly-karretjie

Elke aand vra ek om genade vir waar ons is en waar ons mense bly. – Gegly, wens ek kon bly (Toronto, Kanada)

Wie weet, dalk eendag sal Suid-Afrika weer ’n land wees wat vir ons kinders ’n toekoms bied. Maar vir eers geniet ek my jaar betaalde kraamverlof, om tot middernag vrou-alleen in die strate te stap en waar die hoofnuus ’n perd is wat raak gery word. – Susan (Kanada)

Ek sou so graag die land wou verlaat, maar omdat ek oor vyftig is en slegs matriek het, is dit nie ’n opsie nie. Kom by! – Deon

Die “groot rol” wat wittes veronderstel om te speel is ’n wanvoorstelling. Ek gly. – Lizel

Moenie op my skouers kom huil as iemand by jou huis inbreek, jou geliefdes seermaak of jou werk vat nie en jy besef jy het ’n fout gemaak. – Neels du Plessis

Suid-Afrika en Zimbabwe is ’n ewebeelde van mekaar. As ek maar net kon, was ek al lankal oorsee. – Pieter Fourie

Duisende gou-gou ‘BlyNetters’

Johan Eybers
Johannesburg

 Die vakbond Solidariteit is die afgelope week oorval deur reaksie op sy Vat-jou-goed-en-bly-inisiatief.
Dr. Dirk Hermann, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit, sê daar is gehoop dat so 300 mense binne die eerste week “BlyNetters” sou word.

“Ons was daarom baie verras toe meer as duisend mense aangesluit het op die eerste dag wat die inisiatief bekend gemaak is,” sê Hermann.

Teen Vrydagmiddag het dit die 3 000-merk bereik.

Dit is Vrydag bekend gestel “om die derduisende Afrikaners in die buiteland te mobiliseer sodat emigrasie nie die grootste ramp vir Afrikaners hoef te wees nie, maar ’n geleentheid om ’n internasionale netwerk te stig,” sê Hermann.

“Ons wil ons mense in die buiteland nie as ‘hulle’ sien nie, maar eerder as deel van ‘ons’. Ons sien hulle nie as rugdraaiers nie, maar as ’n internasionale netwerk wat ons kan help om ’n toekoms hier in Suid-Afrika te skep,” sê Hermann.

’n Vuurwarm debat was ook die afgelope week op Rapport en BlyNet se webwerf aan die gang oor die ondersteuning van die aksie.

Nie almal is ewe positief nie.

Lizel skryf: “Kom by. Migrasie is so oud soos die mensdom self en neem toe namate globalisering toeneem. Die veldtog word deur mense gedryf wat besig is om hul ondersteuningsbasis te verloor. Ek gly.”

Jet West van die Kaap skryf dat hy as bruin mens dit ook wil onderteken, maar hy kan nie omdat dit net vir Afrikaners bedoel is.

Woestynkind skryf sy verwelkom enige aksie wat positief bydra tot “die opbou en herbou van ons mooi land”.

“Ek is moeg vir Afrikaners wat dag en nag kerm en kla. Dit is tyd om te begin werk. Ek bly!”
Johan van Roon sê hy ondersteun dit sterk. “Ons het net soveel reg om hier te wees. Ons moet sterker staan teen onder meer regstellende aksie en die treurige manier waarop die regering die land bestuur.”

• Die dramaturg Deon Opperman en die skrywer Koos Kombuis het mekaar nou ook hieroor aangevat.
Opperman het in ’n rubriek op die aanlyn-joernaal LitNet geskryf hy het ’n musiekspel Ons vir jou geskryf omdat hy moeg is vir Afrikaners se mismoedige houding.

Hy haal uit die teks aan om sy punt te bewys wat hy in die mond van die Boereheld genl. Koos de la Rey lê: “Ons is te min? Laat elke man wat nou so dink sy wapen neerlê en loop, want sonder julle, al is ons minder, is ons baie, baie meer.”

Kombuis was nie beïndruk nie. In ’n ope brief beskuldig hy Opperman daarvan dat hy De la Rey as ’n oorlogsugtige mens voorstel om sy punt te bewys, terwyl De la Rey ’n man vir vrede was.

“Hy’t nie in die verlede geleef soos jy nie,” skryf Kombuis. “As ek De la Rey was, het ek jou gesue vir naamskending.

“Dié gevegsfrontpraatjies in die huidige tyd is onvanpas, naïef en, lyk dit vir my, suiwer vir winsbejag.”
Kombuis sê in werklikheid is Afrikaanse mense vandag deel van ’n breë protesbeweging wat onder Suid-Afrikaners oor die algemeen ontstaan het.

“Ook in Afrikaanse geledere is daar mense wat bereid is om op te staan vir wat reg en verkeerd is. Ek is trots op hulle.”

Opperman se reaksie hierop was dat Kombuis onverantwoordelik is om hom te beskuldig dat hy ’n beroep op Afrikaners doen om konvensionele oorlog te voer.

• Hermann sê sowat 200 Suid-Afrikaners in die buiteland het Vrydagoggend by die HelpNet-netwerk aangesluit.

Ons bly net hier!

Laai die artikel af

Ons bly net hier! – Rapport, 13 April 2008

Altesame 46 prominente figure en leiers in die Afrikaanse gemeenskap het hulle in die Vat-jou-goed-en-bly-deklarasie daartoe verbind om in Suid-Afrika te bly. Maar hulle wil protesteer teen dit wat verkeerd is en hulle wil help werk aan oplossings. Hier is hul verklaring van voorneme en die name van die ondertekenaars.

Die credo van ’n patriot:

• Ek onderneem om my demokratiese regte op te eis. Ek is ’n demokratiese burger, nie ’n demokratiese onderdaan nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondemokratiese optrede my van ’n demokratiese toekoms ontneem nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondermyning van die Grondwet my van my grondwetlike regte ontneem nie. Ek kan nie dat ander se rasbeheptheid my van ’n diskriminasievrye omgewing ontneem nie.
• Ek sal aan veldtogte deelneem om my taal te beskerm en moedertaalonderrig te verseker, om die elektrisiteitskrisis op te los en misdaad in Suid-Afrika hok te slaan.
• Ek sal help om gemeenskapstrukture te skep om my en my mense te beskerm en sal druk op die regering uitoefen om sy grondwetlike plig na te kom deur my te beskerm.
• Ek sal nie hande gevou sit oor onbillike diskriminasie teen my mense by die werk nie, en sal politieke inmenging in sport nie aanvaar nie. Ons kan nie toelaat dat grondvergrype plaasvind en politieke inmenging misdaadbekamping bedreig nie.
• Ek sal help om armoede onder my mense te takel en om opleidingsgeleenthede vir jong mense te skep. Waar die regering maatskaplike subsidies aan my mense onttrek, sal ons help om saam met kerke gemeenskapsorgstrukture te skep.
• Ek sien Suid-Afrikaners in die buiteland nie as verraaiers nie, maar as ’n internasionale netwerk wat ek gaan help mobiliseer om vir ons wat hier gaan bly, ’n toekoms te help skep. Ek glo Suid-Afrikaners in die buiteland het steeds ’n verantwoordelikheid teenoor ons in die moederland. Dieselfde redes wat hulle laat gly het, moet deur ons wat gebly het aangepak word.
• Ek sal ons Afrikaanse kunstenaars ondersteun en Afrikaans luister en lees. Waar daar nie meer Afrikaanse opleidingstrukture bestaan nie, sal ek pogings ondersteun om nuwe opleidingsinstellings te bou.
• Ek sal my hand na ander Suid-Afrikaners uitsteek en werk om ’n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika te skep.
• Ek het nie meer tyd vir die luukse om apaties en depressief te wees oor die regering se onvermoë om vir my ’n veilige en aangename omgewing te skep nie. Ek gaan saam met my gemeenskap moue oprol en nie in alles afhanklik van die regering staan nie.
• Ek sal aksies ondersteun en bevorder om vir my ’n plek in Suid-Afrika te skep, want ek gaan nêrens heen nie.

Tim du Plessis: Bly en help om te bou en te stry

Die Trekkerleier Piet Retief het ’n manifes uitgereik waarin die Boere verklaar het hoekom hulle trek.
In die “manifes” waaroor Rapport vandag berig, sê die Boere waarom hulle bly.

Albei manifeste het nietemin belangrike ooreenkomste: hulle is geskryf en onderteken deur omgekrapte mense. Albei behels protes.

Soos Dirk Hermann van Solidariteit sê: om te bly, kan ook ’n daad van protes wees. Of, in ligter trant: moenie kwaad gaan slaap nie, bly wakker en baklei!

Dis ’n subtiele, dog betekenisvolle ratverwisseling. Ons bly, want ons wil stry, regmaak.

Aan die hand van stewige navorsing deur die Instituut vir Rasse-aangeleenthede het Rapport verlede jaar berig dat sowat ’n miljoen wittes Suid-Afrika tussen 1995 en 2005 verlaat het.

Die berig is destyds wyd opgevolg en oral druk bespreek. Hoofsaaklik onder wittes.

’n Algemene reaksie was: pla dit dan nie die ANC-regering dat soveel wittes hul kundigheid en hul geld landuit gevat het nie?

Hulle móét tog bekommerd wees. Sedert daardie berig is ook knaend in die buitelandse media berig oor die massiewe uittog van wittes en deesdae al meer, ook mense van ander minderheidsgroepe.

Die waarheid is die ANC-in-regering en as politieke party gee nie ’n flenter om oor emigrasie nie.

Opposisie-LP’s wat daardie syfers in die parlement geopper het, is uitgelag deur daardie koor van leë blikke, die ANC se agterbankers.

Charles Nqakula, die meestal bewustelose minister van veiligheid en sekuriteit, het eintlik ’n helder oomblik gehad toe hy verlede jaar in die parlement gesê het dis net wittes wat kla oor misdaad, hulle moet maar skoert.

Dis die ANC se hartstaal daai. En eintlik heel begryplik.

Kan iemand nog onthou hoe die Natte die liberale, die Jode en die Engelse gekoggel het wat in die apartheidsjare gewaai het?

PFP staan vir “packed for Perth”, het hulle die party van die stoere patriot Frederik Van Zyl Slabbert gespot.
Emigrasie het nie die vorige magshebbers tot hul sinne geruk nie en sal dit nog minder doen met die huidiges. Dis bloot menslike natuur.

Eintlik is dit eenvoudig. Elke witte wat loop oor misdaad en die verlammende raspolitiek van die ANC in die Mbeki-era, is een minder wat kan protesteer.

Een minder wat sy of haar stem luidkeels verhef teen die algehele agteruitgang in die land se infrastruktuur en die skreiende onbekwaamheid van die staat op alle vlakke van regering.

Een minder wat ’n lesersbrief aan ’n koerant kan skryf om te protesteer.

Een minder wat kan inbel na ’n geselprogram op die radio en lawaai oor korrupsie en wanadministrasie.

Een minder wat inligting vir ’n opposisie-LP kan gee wat die forum van die parlement kan gebruik om wandade te onthul en op die openbare rekord te plaas.

Een minder wat vir ’n opposisieparty kan stem. Of wat ’n koerant kan koop wat onthul, ondersoek en sommer net die hel losmaak oor alles wat verdomp verkeerd loop.

Een minder wat die magshebbers ongemaklik kan laat voel met openbare protes.

Die punt is: daar is genoeg demokratiese ruimtes wat ons kan gebruik om te stry en te baklei as ons bly.
Nou weet ek daar is baie voornemende en gewese trekkers wat sal sê wat help dit ek bly as ’n daad van protes, maar ek word in my huis vermoor?

Of my loopbaan val vas weens ’n raskwota by die werk?

Vir hulle is daar gewoon geen antwoord nie. Hulle moet gaan en gelos word om in vrede te gaan.

Uiteindelik is bly of trek ’n saak van diepe innerlike oortuiging.

Maar soos ons sien aan die vrolike verskeidenheid van mense wat die Blynet-deklarasie onderteken het, hier is sommer nog lekker baie van ons wat wil “wakker bly en baklei”.

Dis ’n fout om te dink net wit Suid-Afrikaners is tans omgekrap. Die kuns is om nie-rassige koalisies te vestig om te protesteer.

Die beginpunt daarvan is om te bly.

Veg jy of vlug jy? Kom ons help ons kinders

Flip Buys

Die sielkundige Walter Cannon het al in 1915 gesê dat mense en diere op bedreigings reageer deur te veg of te vlug. In die moderne tyd beteken dit dat suksesvolle mense op bedreigings reageer deur iets daaraan te doen (veg), en dat onsuksesvolles net kla en niks doen nie (vlug). Die waarheid hiervan kan mens nou met al die probleme in SA sien. Dit lyk soms of die groot meerderheid net wil kla, niks wil doen, hulself onttrek van alles en selfs landuit gaan. Alhoewel dit moontlik verstaanbaar is, gaan dit (vlug) nie ons probleme oplos nie. Gelukkig kan ons deur op die regte manier te ” veg”, werk aan oplossings wat ook vir ons kinders ‘n toekoms kan skep.

Suid-Afrika het genoeg probleme om ons almal moedeloos te maak. Maar terselfdertyd bied die land genoeg geleenthede om mens ‘n paar leeftye lank besig te hou! Probleme sal daar altyd wees, daaraan kan ons nie verander nie. Wat ons wel kan verander is hoe ons daarop reageer. Ons kan kies of ons gaan “veg of vlug”. Gaan ons iets aan die probleme doen, of gaan ons net kla en gaan lê, maw vlug. Die keuse is elkeen van ons s’n.

Die meeste van Solidariteit se lede het ‘n kwalifikasie, meestal seker op tegniese gebied. Daarom is ons seker die grootste vakbond van geskoolde lede in die land. Ons lede het hierdie kwalifikasies gekry deur geleenthede wat ons in die verlede gehad het, en deur hard daarvoor te werk. Hierdie kwalifikasies en harde werk is die hoofrede waarom ons lede werk het, en in die algemeen sukesvol met hulle werk is. Ons werk sit kos op die tafel en maak dit vir ons moontlik om vir ons gesinne te sorg.

Aan die ander kant is daar miljoene arm mense in die land wat nie goeie opleiding en kwalifikasies het nie, en wat daarom nie werk het nie en broodgebrek lei. Die verskil tussen ‘n goeie werk en inkomste, en werkloosheid en armoede is dus goeie opleiding en ‘n goeie kwalifikasie. Daarom is dit ‘n tragedie en ‘n skande dat beroepsopleiding so platgeval het dat daar ‘n vaardigheidstekort in ‘n land vol werkloosheid is. Waar die land in 1977 33 000 ambagsmanne opgelei het, is daar verlede jaar net sowat 1500 opgelei.

Sol-Tech dóén iets

Die skuld vir hierdie krisis moet vierkantig voor die deur van die regering en die sakereuse gelê word. Daarom voel mens bekommerd dat diegene wat die probleem veroorsaak het dit nie sal kan oplos nie. Maar net kla en beskuldig gaan nie ons kinders help nie. Daar word nou al vir ‘n dekade oor die probleem gepraat en geskryf, sonder om veel daaraan te doen. Solidariteit is die uitsondering op hierdie reël. Ons het drie jaar gelede ‘n Kollege, Soltech gestig, lei nou al 450 ambagsleerders op, en beplan groot uitbreidings in die toekoms.

Wat ons dryf is om dieselfde en beter geleenthede vir ons kinders te skep as wat ons geslag gehad het. Ons ouers het ‘n ekonomiese wonderwerk op die suidpunt van ‘n sukkelende vasteland geskep. Ons kan egter nie net roem op hulle prestasies nie, want elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd. Dit is nou óns tyd om ‘n verskil te maak, om ‘n wonderwerk vir die volgende geslag na te laat.

My siening is dat daar dinge in die lewe is wat die moeite werd is om voor te veg en te werk. Die belangrikste hiervan is ‘n toekoms vir ons kinders. Al maak die regering nou hóe droog, en al gee die meeste maatskappye niks vir ons mense om nie, ons kan nie oók niks doen nie. Want dan gaan baie van ons kinders ook in plakkerskampe sit, al klink dit hoé ondenkbaar vir opgeleide mense soos ons.

Die tegniese kolleges vaar beroerd, met ‘n slaagsyfer van onder die twintig persent, ten spyte van miljarde rande van ons belastinggeld. Ek sal nie my kind daarin sit nie, hoe kan ek verwag dat jy jou kind daarin sit? Die slaagsyfer van Soltech was verlede jaar 83% en ons mik hierdie jaar vir 93%, en dit met ‘n fraksie van ‘n breukdeel van die begroting van ‘n staatskollege. Die groot maatskappye lei feitlik nie meer jongmense en veral wit jongmense op nie. Dis die somtotaal van dinge soos hierdie wat mense laat vlug, wanhopig raak of landuit laat trek.

Aan die ander kant is dit die somtotaal van dinge soos hierdie wat vegters juis aanspoor om iets te doen, om deur die uitvoering van jou Christelike roeping ‘n wonderwerk te vestig. Soos die lied van die ou Potchefstroomse universiteit gelui het: ” Gebore uit die nag van smaad, sien ons jou staan as wonderdaad”. Ons hét dit al gedoen, en kan dit weér doen!

Vir ons kinders

Die sukses wat Soltech tot sover op klein skaal behaal het, gee ons die vrymoedigheid om ‘n beroep op ons lede te doen om ons kinders te help. Ons lei tans 450 jongmense by ons een opleidingsentrum op, maar daar is ‘n behoefte om landswyd seker meer as 10 000 op te lei in sentrums regoor Suid-Afrika! Oor die 10 000 van ons lede gee reeds klein ekstra bydraes vir die Solidariteit Helpende Hand waarmee ons jongmense ‘n kans in die lewe gee. Soos derduisende klein reëndruppels die reuse Vaaldam volmaak, kan derduisende klein maandelikse bydraes van ons lede ‘n groot kapitaalfonds bou waarmee Soltech alle jongmense wat opleiding wíl hê kan oplei. Die Amerikaanse Skrynwerkersunie befonds hoofsaaklik met klein ledebydraes jaarliks meer as 40 000 mense se opleiding! Met net R10 per maand van elke lid het Soltech maandeliks meer as R1 miljoen waarmee saam met ander fondse sowat 2000 jongmense opgelei kan word.

Kom ons help ons kinders met opleidingsgeleenthede om van hulle lewens ‘n sukses te maak, en sodat hulle weer vir húlle gesinne kan sorg. R10 per maand gaan nie ‘n verskil aan jou maak nie, maar dit kan lewenslank ‘n verskil aan ‘n jongmens se lewe maak.

Vyf redes om in Suid-Afrika te bly

Deur Jaco Kleynhans

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het onlangs ? studie bekendgemaak wat aantoon dat meer as 1 miljoen wit Suid-Afrikaners sedert 1994 die land verlaat het. ? Groot aantal van hierdie emigrante is hoogsgeskoolde mense met skaars vaardighede. Daarbenewens is daar na alle waarskynlikheid tans ? paar honderdduisend Suid-Afrikaanse jongmense wat tydelik oorsee is. Die presiese aantal is nie bekend nie, en ook nie hoeveel van hulle dit oorweeg om permanent oorsee te bly nie.

Buiten die groot aantal hoogsgeskoolde wit Suid-Afrikaners wat die land sedert 1994 verlaat het, is daar tans ook ? toename in hoogsgeskoolde Suid-Afrikaners van ander rasse wat oorsee gaan. Dit sluit veral medici, verpleegsters, onderwysers en ingenieurs in.

Die rede waarom wit mense Suid-Afrika vir groener weivelde in ander lande verlaat, kan volgens die studie van die SAIRR grootliks aan misdaad en regstellende aksie toegeskryf word. In die algemeen is beter loopbaangeleenthede teen beter salarisse met beter lewensstandaarde ook ? sterk motiveerder vir Suid-Afrikaners van alle rasse om groener weivelde te gaan opsoek.

Ten spyte van al die probleme in Suid-Afrika is daar vandag meer ryk Suid-Afrikaners van alle rasse as tien of vyftien jaar gelede. Baie mense kry dit dus steeds reg om in Suid-Afrika te bly en hier ? suksesvolle toekoms vir hulself en hul gesinne te skep.

Solidariteit het ondersoek gaan instel na die redes waarom mense in Suid-Afrika moet en kan bly, sonder om lewensgehalte in te boet. Vyf van die redes is:

Geleenthede

 

In 2006 moes Sasol honderde tegnici van Taiwan af invoer om instandhoudingswerk by die maatskappy se aanlegte in Suid-Afrika te kom doen. Talle maatskappye, waaronder Sasol, Kumba Resources en Murray & Roberts Cementation, het verlede jaar spesiale aanbiedinge aan werkers met skaars vaardighede gemaak. Eskom het vroeër vanjaar aangekondig dat hy duisende geskoolde werkers sal moet aanstel om aan die groter vraag na elektrisiteit te voldoen. Talle maatskappye het aangetoon dat hulle sekere poste sal moet vul sonder om regstellende aksie in ag te neem, omdat daar eenvoudig nie kandidate is om die poste te vul nie. Dit alles beteken dat daar wel nog goeie geleenthede in Suid-Afrika beskikbaar is. Iemand wat oor die regte vaardighede beskik, of oor die wil om ? sakegeleentheid te identifiseer, kan steeds in Suid-Afrika sukses behaal.

Ontwikkeling

 

Suid-Afrika word as ? ontwikkelende land beskou. Dit beteken dat die land se ekonomie tans nog ontwikkel om tot op dieselfde vlak as eerste wêreldekonomieë te vorder. Ontwikkelende lande het baie keer hoër ekonomiese groeikoerse omdat sulke lande se natuurlike hulpbronne nog nie ten volle benut word nie en omdat produktiwiteit steeds besig is om te verhoog. Dit beteken dat daar vir entrepreneurs in ? land soos Suid-Afrika geweldig baie geleenthede bestaan om nuwe produkte of dienste beskikbaar te stel. So byvoorbeeld beplan Eskom om oor die volgende paar jaar talle nuwe kragstasies te bou. Dit sal beteken dat daar in die gebiede waar die kragstasies gebou gaan word, talle behoeftes aan dienste en produkte sal ontstaan. Alles gaan daaroor of mens ? geleentheid kan raaksien en dit benut.

Die land

 

? Derde rede waarom mense in Suid-Afrika moet aanbly het natuurlik te doen met wat die land jou kan bied. Goeie weer, byna geen natuurrampe nie en pragtige natuurskoon is maar net ? paar van die dinge waarna mense verlang as hulle die land verlaat het. Dit alles dra natuurlik ook by tot mense se lewensgehalte.

Ons taal, kultuur, geloof en familie

 

Suid-Afrika bied steeds aan sy inwoners ? ryke kultuurbelewenis. Suid-Afrikaners het ook ? kuierkultuur soos min. Tussen al die musiek, feeste en lekker restaurante en die geleentheid om saam met jou familie en vriende vleis te braai en rugby te kyk, het ons steeds ? kultuurbelewenis wat min ander lande kan bied. Suid-Afrikaners het ook steeds die geleentheid om baie vrylik aan geloofsaktiwiteite deel te neem. Omdat die grootste gedeelte van Suid-Afrika se bevolking hulself Christene noem, is daar veral vir Christene ? baie goeie atmosfeer om hul geloof in uit te leef. Suid-Afrika het ook steeds ? sterk familie-ingesteldheid, waar die gesin en groter familie steeds baie belangrik is. Emigrante kan hierdie ondersteuning verloor.

Daai iets wat ons Suid-Afrikaners maak

 

Vra maar vir meeste Suid-Afrikaners wat geëmigreer het en daarna weer na Suid-Afrika teruggekeer het en meeste sal vir jou sê dat dit daardie iets is wat hulle gemis het. Daardie iets het natuurlik met Suid-Afrikaanswees te make. Ons Suid-Afrikaners het al ? kultuur van ons eie ontwikkel en daarom is dit nie altyd vir ons maklik om in ander lande aan te pas nie.

Dit is waar dat daar vandag baie negatiewe dinge in Suid-Afrika is. Misdaad, regstellende aksie, hoë brandstof- en kospryse, ? tekort aan elektrisiteit is maar ? paar. As mens egter hierdie kwessies en hulle regstreekse uitwerking op mense teen die voordele opweeg wat ons land vir sy mense inhou, dan moet dit steeds swaarder weeg om in Suid-Afrika te bly. Die meeste krisisse wat ons tans beleef is van ? tydelik aard en kan wel oor die langtermyn opgelos word. Ons moet dus nie hoop in ons toekoms verloor nie, maar moet eerder saamspan om vir onsself ? toekoms hier te skep.