Die Filosofie professor se pap wiel en die Sondeval – Rapport

Flip Buys

My Filosofie professor was ‘n goeie mens. ‘n Baie goeie mens. Een van díe soort mense wat rooi koeldrank gedrink, spookasem geëet en Hooked on Classics geluister het. Terwyl ek een Vrydagmiddag lomerig na sy vertolking van ‘n “nadenkend sistematiese abstraksie” gesit-lê en luister het, het ek finaal besluit dat hy nog nooit ‘n sondetjie gedoen het nie. Nie net omdat hy baie teen die sonde was nie. Dis nou nadat ek myself onsuksesvol probeer indink het hoe dit sou lyk as hy op ‘n stoel in

Een Vrydag het ons klas byna ‘n halfuur laat begin. Dit was toe Professor en ‘n teologiese student gelyk by die deur bly staan en vriendelik aanhou aandring het dat die ander een eerste moes instap. Sy vertroue in die mensdom was min of meer onbeperk. Dis eintlik hoekom ek stiptelik sy klasse bygewoon het. Ek kon dit nie verdra om sy vertroue in die mens te skok deur nie klas toe te kom nie. Een middag het ‘n gewetenlose skurk sy kar se wiel afgeblaas. Feitlik die hele klas het uit simpatie met hom kom help om sy wiel om te ruil terwyl ons rondom die kar loop en spytige kloekgeluide maak en hardop wonder oor wat besig is om van die wêreld te word. Hy het kop onderstebo gestaan en mompel oor die Sondeval, as ek reg onthou. Toe het ek vir die eerste keer begin bekommerd raak dat die Sondeval nog erger gevolge vir ons sou hê as ‘n pap wiel.

Professor was sterk teen konflik in die wêreld. Hy kon nie glo dat dit soms kon voortspruit uit grondliggende belangebotsings nie. Volgens hom was dit alles net misverstande wat deur openhartige gesprek tussen redelike mense opgelos kon word. Malema, Selebi en Hlope het totaal anderkant sy ideologiese horisonne gelê. Hy was die eerste persoon wat vir ons vertel het van ‘n Rechtstaat, tweede generasie menseregte en die skeiding van magte. Dit was vir almal baie mooi. Ek het ook gedink dat dit beslis kon werk as almal sulke goeie mense soos Professor was. Maar dat die mag van ‘n baasspelerige party al hierdie mooi dinge kon oor-(of op?) donder, het buite die beskaafde debat in sy klas geval. Hy het sommer gou groot oë vir my gemaak as ek sulke dinge vra. Ons Internasionale Politieke klas was vir my meer prakties. Met praktiese oplossings. Daar het ons geleer hoe Afrika werklik is, en nie oor hoe ons hoop dit moet wees nie. Die idealiste in daardie klas was meestal depressief. Behalwe Marthinus. Ek het soms gewens ek het so min soos hy geweet. Hy het altyd só gelukkig gelyk.

Ek wonder of Professor deesdae daar van Australië af nog lees oor wat hier aangaan. Oor wat besig is om van al daardie mooi dinge te word waarvan hy belowe het. Want my kinders bly nog hier.