BlyNet is sedert sy stigting oorval met Afrikaners in die buiteland wat ook by die projek betrokke wil raak. Is jy ’n Afrikaner wat tans in die buiteland woon? Wil jy deel word van ’n netwerk Suid-Afrikaners wat oorsee bly, maar wat graag ’n bydrae wil lewer om Suid-Afrika steeds vir ons mense te LAAT werk? Dan is HelpNet vir jou. Deur HelpNet wil ons derduisende van ons mense in die buiteland as ambassadeurs vir ons saak mobiliseer. Ons wil hulle ook mobiliseer om ons aan hierdie kant te help. Vandaar die naam HelpNet. Vul die vormpie hieronder in, indien jy deel van HelpNet wil word. Lees ook die opebrief aan almal wat ver is hieronder.
cforms contact form by delicious:days
Opebrief aan almal wat vêr is
Word ‘n HelpNetter vir die BlyNetters (www.blynet.co.za)
Ons neem die vrymoedigheid om aan almal van julle wat vêr is, te skryf. Al die duisende Suid-Afrikaners wat die afgelope tyd ge-ëmigreer het. Ons het almal familie, vriende of kennisse in die buiteland. Ons mis hulle en wens hulle is eerder hier.
Ons besef julle hart lê in Suid-Afrika, maar julle is elders. Julle is Afrikaans, maar is nie meer van Afrika nie. Ons besef julle mis julle mense en verlang na hulle. Julle mis waarskynlik die oop omgewing, die natuur en die klimaat.
Van die redes waarom julle vertrek het, is waarskynlik misdaad, regstellende aksie en twyfel oor die toekoms. Die redes hoekom julle ge-ëmigreer het, het egter nie saam met julle ge-ëmigreer nie. Ons beleef daardie redes steeds elke dag.
85% van Afrikaners kan nie emigreer nie. Emigrasie is ‘n oplossing vir individue en nie vir ‘n gemeenskap nie. Daardie 80% het nie die finansiële vermoëns of die vaardighede om te emigreer nie. Duisende is bejaard en moet hulle oudag hier in Suid-Afrika deurbring. 430 000 Afrikaners is so arm dat hulle net in informele nedersettings kan bly. Dan is daar ook talle van ons wat nie wil emigreer nie. Ons wil graag bly. Ons wat gaan bly het ’n netwerk van BlyNetters geskep wat sê ons gaan bly en stry.
Ons wil egter ons mense in die buiteland nie as “hulle” sien nie, maar eerder as deel van “ons”. Ons oproep aan julle is om nie die naelstring met julle mense te knip nie. Ons sien julle nie as rugdraaiers nie, maar as ’n internasionale netwerk wat ons wat hier bly kan help om ‘n toekoms hier te skep. Ons het ‘n miljoen ambassadeurs dwarsoor die wêreld wat wag om gemobiliseer te word.
Ons vra ons ambassadeurs om ons saak dwarsoor die wêreld te stel. Ons vra julle om in julle lande te vertel van ons stryd teen onbillike vorme van regstellende aksie, die vlakke van misdaad waaronder ons gebuk gaan en die ontkenning van die regte van ons as minderhede. Vertel ook vir die mense van die talle voorvalle waar transformasie ‘n hoër gesag gekry het as die Suid-Afrikaanse grondwet. Herinner die regerings waar julle bly dat hulle almal druk geplaas het om die huidige demokrasie in Suid-Afrika te vestig. Hulle het nou ook ‘n plig om demokratiese regte in Suid-Afrika in stand te help hou. Skryf briewe aan koerante in die duisende lande en stede en dorpe waar julle woon. Word vir ons ‘n netwerk van ambassadeurs dwarsoor die wêreld.
Help ons om ‘n veldtog te voer teen misdaad, help ons om nuwe Afrikaanse armoede te beveg, help ons om jongmense op te lei, help ons om politieke inmenging in sport te beveg, help ons om onbillike regstellende aksie hok te slaan. Word deel van ‘n internasionale HelpNet-netwerk om ons wat hier bly te ondersteun.
Ons wil soveel as moontlik van julle by ‘n internasionale netwerk inskakel. Ons noem die netwerk HelpNet. Ons sal julle gereeld inlig van hulp wat ons benodig en sal julle voortdurend van belangrike nuus voorsien. Ons sal ook voertuie skep waardeur julle kan help.
Al is jy van vêr, wil ons jou vra om deel van die “ons” te bly en nie ‘n “hulle” te word nie. Ons het jou hulp nodig. Ons wil deur HelpNet die derduisende Afrikaners in die buiteland mobiliseer sodat emigrasie nie die grooste ramp vir Afrikaners hoef te wees nie, maar ‘n internasionale geleentheid.
Besoek ons wat hier gaan bly se webbladsy by www.blynet.co.za en sluit daar by die HelpNet-netwerk aan.
Ons sien daarna uit dat jy deel van ons familie gaan bly.
Die BlyNetters