Leerlinge van regoor Suid-Afrika sal nou as deel van die Solidariteit Tydskrif Punt-liriekskryfkompetisie hul punt maak. Dié opwindende veldtog wat deur die ledetydskrif van die Solidariteit Beweging in samewerking met SyAn Productions en Electro Groove Studios gevoer word, word vanjaar vir die eerste keer aangebied en sal hoërskoolleerlinge die kans bied om hul sê kreatief en met mening in Afrikaans te sê.
Die kompetisie beoog om duisende Afrikaanse hoërskoolleerlinge met trots te laat soek na hul Afrikawortels. Volgens dr. Dirk Hermann, redakteur van Solidariteit Tydskrif en adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is die tema van vanjaar se kompetisie ‘Basta! Ons voetspore is in Afrika’. Die tema spruit voort uit die gelyknamige boek deur Hermann wat in 2010 bekendgestel is en die geskiedenis van die Afrikaner ondersoek.
“Die idee is dat jongmense na hul wortels sal gaan soek en uiteindelik met trots kan sê: ‘Afrika en Suid-Afrika is mý tuiste. Ek hóórt hier!’,” verduidelik Hermann. “Ons hoop om deur die Punt-kompetisie op ʼn positiewe manier ʼn liefde vir hul herkoms en kultuur by jongmense te help kweek.”
Hermann word ondersteun deur die nuwe sangsensasie Andries Hendrik Potgieter, wat ook die gesig en stem van die veldtog is. Potgieter is ʼn direkte nasaat van die Voortrekkerleier, Andries Hendrik Potgieter, wat ook sy merk in Suid-Afrika se geskiedenis gelaat het. “Nes my grootjie wil ek ook nuwe grondgebied inneem. Nie deur nuwe dorpe en stede op te rig nie, maar deur jongmense opgewonde oor hulle herkoms en toekoms te maak,” sê hy.
Die 12 beste inskrywings sal getoonset word deur die bekende liedjieskrywer en musikant Waldo Greeff. Greeff het reeds twee Tempo-musiektoekennings agter sy naam vir sy liedjie Is dit jy? (gesing deur Andriëtte Norman) wat deel was van die Huisgenoot liriekskryfkompetisie. Die wenliedjies van die Punt-liriekskryfkompetisie sal tesame met vanjaar se temalied, Basta, op ʼn CD opgeneem word en in November vanjaar uitgereik word. Alle liedjies sal gesing word deur Andries Hendrik Potgieter. Die skrywer van die wenlied sal boonop ook R5 000 in die sak steek.
Die kompetisie word op Maandag, 14 Maart 2011 amptelik by die Hoërskool Waterkloof in Pretoria bekendgestel. Hiertydens sal die sanger Andries Hendrik Potgieter die temalied Basta sing en die musiekvideo van die lied bekendstel.
Die media word uitgenooi om die geleentheid by te woon:
Datum: Maandag, 14 Maart 2011
Tyd: 08:00
Plek: Hoërskool Waterkloof, h.v. Boeingstraat en Hans Strydomrylaan, Erasmuskloof
Kompetisiereëls:
- Die kompetisie is oop vir alle hoërskoolleerlinge.
- Inskrywings is gratis.
- Die kompetisie sluit op 13 Mei 2011. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
- Daar is nie ʼn beperking op die aantal inskrywings nie.
- Inskrywings moet in Afrikaans wees.
- Stuur inskrywings na punt@solidariteit.co.za. Jou naam, van, ouderdom en die naam van jou skool moet die inskrywing vergesel.
- Lirieke sal deur die sanger Waldo Greeff getoonset word, en dus hoef inskrywings slegs die lirieke te bevat.
- Enige lirieke waarin tekens van plagiaat voorkom sal summier gediskwalifiseer word.
- Alle lirieke word die eiendom van Solidariteit Tydskrif.
- Die boek Basta! Ons voetspore is in Afrika, is as basis vir die temalied Basta gebruik. Belangstellendes kan dié boek as basis vir hul eie lirieke gebruik. Die boek word uitgegee deur Kraal-Uitgewers. Belangstellendes wat die boek deur die kompetisie teen R90 aankoop kry ook ʼn handige skryfgids gratis. Stuur ʼn e-pos aan akoster@solidariteit.co.za om die boek te bestel.
Meer oor Andries Hendrik Potgieter
Andries Hendrik Potgieter is die jongste afstammeling van die groot Voortrekkerleier met dieselfde naam, maar hoewel die hedendaagse A.H. Potgieter stewig met sy voete in die vermaaklikheidsbedryf staan, het hy ook ʼn sterk liefde vir Afrikaans en sy Afrikaner-herkoms. Met hierdie sterk verbintenis met een van die grootste name in die Afrikaner se geskiedenis, is Andries die ideale sanger van die twaalf wenliedjies wat deur die Solidariteit Tydskrif Punt-liriekskryfkompetisie aangewys sal word. Die temalied, Basta, is reeds opgeneem en sal binnekort op radiostasies en musiekkanale gespeel word.
Andries is tans onder meer aan die stuur van die Stand as One-projek wat in samewerking met verskeie gospel-sangers soos Nedine Blom, die Soweto Gospel Choir en jeugkore van regoor die land aangebied word. Die projek is daarop gefokus om spesifiek na die jeug uit te reik. Dié CD word eersdaags op 24 Maart by Laerskool Magalieskruin in Pretoria bekendgestel.
Andries se eerste solo-album sal ook later vanjaar die lig sien met die lied Ons huis is hier wat na verwagting die Afrikaanse musiekmark sal stormloop. Die lied is ook op die Stand as One-CD beskikbaar wat voor die einde van die maand op die rakke sal wees.
Besoek ook www.andrieshendrikpotgieter.com en www.standasoneproject.com vir meer inligting.
- Besoek www.solidariteittydskrif.co.za vir meer inligting oor die kompetisie.
- Klik hier vir ʼn hoë resolusie-foto (4 MG) van Andries Hendrik Potgieter.
- Klik hier om die hoë resolusie-plakkaat (16 MG) van die kompetisie af te laai.