Dagsê

Soos ons almal, is ek ook bekommer oor ons mense se gebrek aan hoop en die groot aantal Afrikaners wat dit oorweeg om te emigreer. Baie mense sal uiteindelik wel emigreer, maar minstens 85% van Afrikaners kan en wil nie emigreer nie. Vir diegene wat nie kan emigreer nie, moet dit ‘n bedrukkende ervaring wees om te sien hoe die elite emigreer en daarvan praat om te emigreer. Dit is veral vir hierdie groep wat ‘n mens hoop moet gee. Hulle moet die boodskap kry: “Ons is aan julle kant!”

Ek gaan hier bly, maar ek het dit nog nie besluit nie. Dit klink soos ‘n teenstrydigheid, maar ‘n wilsbesluit om te bly is ‘n bevrydende gevoel en om vir ander te begin sê: “Ek bly, en jy?” word ‘n kollektiewe gevoel van bevryding. Daar is iets emosioneel aan ‘n besluit om te bly.

Om te besluit om te bly – en dit te sê – is ook ‘n sterk politieke protes. Ek het so ‘n klompie maande gelede die Black Management Forum toegespreek en een van die gehoorlede het emosioneel haar rug op my en haar gesig na die gehoor gedraai en geskreeu: “Whites must go!” Om dan te sê: “Ek gaan bly” is ‘n sterk politieke protes. Dit sê: “Jy kan maar sê ek is ‘n ‘colonialist of a special type’, maar ek is van Afrika.”

‘n Paar van ons by Solidariteit het besluit ons gaan mense vra om aan ‘n veldtog deel te neem om ‘n verklaring aan mekaar af te lê. Die verklaring is tweeledig. In die eerste plek verklaar ons aan mekaar ons voorneme om hier te bly en tweedens onderneem ons dat ons dinge hier gaan doen. Ons gaan dus bly en stry Ons beplan om ‘n landwye netwerk, Blynet, van blyers te skep. Die blyers gaan gereeld met mekaar praat en mekaar inlig oor die nuutste veldtogte en ander aksies om vir ons ‘n toekoms hier te skep.

Registreer asseblief as ‘n Blyer en sê saam met ons: ons gaan nêrens heen nie. Lees asseblief ook die verklaring aan mekaar wat elders op die webbladsy gepubliseer is.

Groete

Dr. Dirk Hermann
Koördineerder: Blynet-netwerk