Reddingsdaadkongres – ? kongres van hoop

Dr. Danie Langner, November 2009, Solidariteit Tydskrif

Arm Afrikaners is nie ? unieke verskynsel nie. Wat wel uniek is, is dat die Afrikaner daarin geslaag het om twee keer in een eeu – ná die Anglo-Boereoorlog en in die dertigerjare – op te staan uit die vernietigende gevolge van armoede. In die soeke na oplossings is dit nou nodig om, 70 jaar later, te midde van ? derde golf van Afrikaner-armoede, iets van die 1939-denkraamwerk van opheffing-deur-opleiding te herontdek en weer toe te pas. Dit is om hierdie rede dat Solidariteit Helpende Hand met 66 ander Afrikaner-organisasies hande gevat het en in Oktober ? Reddingsdaadkongres in Pretoria aangebied het.

Aanvanklik was daar geen eenstemmigheid oor hoe om die groeiende armoede onder die verstedelike Afrikaners te benader nie. Die algemene siening was dat die verarmde Afrikaners self verantwoordelik was vir hulle omstandighede en dat die Afrikaanse kerke die probleem as deel van hulle barmhartigheidswerk moes hanteer. Die Carnegie-ondersoek van 1929 het egter die weg gebaan vir ? nuwe beskouing.

Twee sake wat die Carnegie-ondersoek duidelik uitgewys het, was dat die groeiende armoede nie die verarmde Afrikaners se skuld was nie, maar eerder ? gevolg van politieke, ekonomiese en maatskaplike prosesse waaroor hulle min beheer gehad het. Tweedens het die ondersoek duidelik getoon dat die verarmde Afrikaners wel ongeskoold en ongeletterd was, maar beslis nie dom nie. Die intelligensietoetse wat deur die Carnegie-kommissie gedoen is, het duidelik gewys dat die kinders se intelligensievlakke baie goed vergelyk met die welgestelde deel van die bevolking. Die Carnegie-kommissie het getoon dat die oplossing vir die armoedevraagstuk gesoek moet word in onderwys, industriële vaardighede en werkskepping.

Dr. Malan het die denkraamwerk van die Carnegie-ondersoek verdiep deur daarop aan te dring dat armes gered moet word uit isolasie en weer opgeneem word deur die middelklas. Hy het ook daarop gewys dat die armes nie “as voorwerpe van barmhartigheid” behandel moet nie omdat dit hulle “afdruk in stigma van minderwaardigheid”. Binne die denkraamwerk van opheffing-deur-opleiding is die krag van Calvinisme as ? positiewe en omvattende lewens- en wêreldbeskouing herontdek.

Die besef onder baie Afrikaners het toegeneem dat die armoedevraagstuk slegs suksesvol aangepak kan word indien daar groter samehorigheid en samewerking onder mekaar is. Dit word veral verwoord in die oproep van JD Kestell tot ? “Saamwerk, Helpmekaar en Redmekaar”.

Die verandering in denke word die duidelikste weerspieël in die besluit van die FAK se reëlingskommissie vir die 1939 kongres teen die gedagte dat ? omvattende liefdadigheidplan die uitkoms van die kongres moes wees. Die Afrikaner het besef dat ekonomiese opheffing die belangrikste voorwaarde vir kerklike, kulturele en wetenskaplike voortbestaan is. Prof. Grietjie Verhoef beskryf die nuwe benadering as ? besigheidsfilosofie eerder as ? oproep tot opheffingswerk: “Die fokus het verskuif vanaf ? verwagting dat die owerheid op nasionale vlak moes ingryp om te red, na ? rasionele, doelgerigte selfbemagtigingsprogram van die vestiging van eie besighede waardeur ekonomiese doelwitte verwesenlik kon word.”

Die denkraamwerk waarin die Eerste Ekonomiese Volkskongres plaasgevind het, het neerslag gevind in konkrete besluite wat geneem en uitgevoer is. Afrikanerkoopkrag en kapitaal is gemobiliseer en belangrike instellings soos die Afrikaanse Handelsinstituut en die Reddingsdaadbond is gestig.

Min Afrikaners het ná 1994 voorsien dat die toepassing van regstellende aksie, ideologiesgedrewe transformasie en die staat se maatskaplike benadering die Afrikaner in ? derde armoedekrisis sou dompel. Die gevolge van die armoedekrisis is net so verwoestend soos die vorige twee armoedevraagstukke en het ook die potensiaal om die Afrikaner geestelik, ekonomies en kultureel te laat doodbloei. Die verwronge en valse persepsie wat deur Mbeki se tweenasie-ideologie geskep is, naamlik dat wit mense ryk is en swart mense arm is, is reeds herhaaldelik as verkeerd bewys.

Die sleutel tot die suksesvolle aanpak van armoede bly nog steeds goeie onderwys, doelgerigte vaardigheidsopleiding waardeur kinders uit Afrikaanse gemeenskappe deel word van die ekonomiese hoofstroom, ? gesindheid van helpmekaar en samewerking, asook die versterking van die middelklas. Hierdie oplossings is reeds histories as suksesvol bewys en moet nou in eietydse konteks nuut toegepas word.