Solidariteit begin met alternatiewe regsaksie teen Aurora

24 Januarie 2011

Werknemers genooi om dringend betrokke te raak by aksie

Die vakbond Solidariteit het met ʼn proses begin ter voorbereiding vir ʼn alternatiewe regsaksie teen Aurora Empowerment Systems. Dit volg nadat die myn steeds nie die beloftes rakende die betaling van werknemers se agterstallige salarisse, vakbondlidmaatskapgelde en ander bydraes nagekom het nie. Solidariteit sou oorspronklik die saak in Januarie 2011 na die arbeidshof verwys het, maar het op grond van regsadvies besluit om eerder ʼn aansoek om die likwidasie van Aurora by die hooggeregshof in te dien.

Solidariteit rig nou ʼn dringende versoek aan werknemers van dié maatskappy se myne wat wil deelneem aan ʼn groepsgeding teen die myn om met die vakbond in verbinding te tree. “Werknemers moet teen 31 Januarie reeds alle nodige inligting aan Solidariteit verskaf sodat die regsaksie vroeg in Februarie van stapel kan loop,” verduidelik Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Volgens Hanno Bucksteg, spesialislitigant van Solidariteit se arbeidshofafdeling, is dit noodsaaklik dat werknemers dringend die nodige inligting aan die vakbond voorsien sodat die nuwe pleitstukke gefinaliseer kan word. Bucksteg beklemtoon dat slegs werknemers wat volledige inligting betyds verskaf in die aansoek verteenwoordig sal word.

Die volgende inligting tesame met stawende dokumente moet aan Solidariteit verskaf word:
- Volle naam en van
- Afskrif van identiteitsdokument
- Straat- en posadres
- Kontakbesonderhede (insluitende faks-, huis- en selfoonnommer sowel as e-posadres)
- Kontakbesonderhede van naasbestaandes
- Titel van pos beklee by Aurora
- Werknemernommer
- Datum van indienstreding en wanneer diens beëindig is
- Salarisstrokies/bankstate vanaf Januarie 2010 tot Desember 2010
- Inligting rakende oortyd (indien van toepassing)
- Dienskontrak
- Uiteensetting van gelde verskuldig

Werknemers wat aan die aksie wil deelneem, kan deelname op die volgende maniere verseker:

- Besoek www.regsdienste.co.za en laai die nodige vorm hier af.
- Skakel Michelle Saayman of Hanno Bucksteg by 012 644 4433.
- Stuur ʼn e-pos na aurora@solidariteit.co.za.

Volgens Du Plessis is die geskiedenis van Aurora een van swaarkry vir die werknemers. Die voorlopige likwidasie van die voormalige Pamodzi-myne het reeds in April 2009 begin. “Die President Steyn-myn in die Vrystaat is verkoop, terwyl die likwidateurs Aurora Empowerment Systems aangewys het om die Orkney- en Oosrand-myne te bestuur totdat oordrag van eienaarskap van dié myne na Aurora kan plaasvind. Aurora kon tot dusver nie daarin slaag om die nodige finansiering vir die transaksie te bekom nie. Werknemers by dié myne ontvang reeds sedert Februarie verlede jaar ongereelde betaling,” voeg hy by.