Vat jou goed en bly! – ‘n verklaring aan mekaar

Hiermee ’n uitnodiging aan die van ons wat hier gaan bly, om in ‘n verklaring aan mekaar die voorneme uit te spreek om hier te bly en ’n toekoms hier te skep. Hierdie is ‘n konsepverklaring. Elke BlyNetter moet self sê hoekom hy/sy gaan bly en hoe hy/sy gaan bou en stry.

  • Ek is van Afrika. My taal is Afrikaans en ek is ’n Afrikaner. My mense het meer as 300 jaar gelede besluit om hulle rug op Europa te draai en hulle gesigte na Afrika te keer. My volk was die eerste in Afrika wat ’n koloniale moondheid in ’n oorlog verslaan het. Talle grafte van my mense, die gevolg van gevegte vir ‘n plek in Afrika, lê regdeur Suid-Afrika versprei.
  • Ek hou van Suid-Afrika. Ek hou van die natuur, die klimaat, die oop omgewing en die vriendelike mense. Ek hou van tipiese Afrikaanse humor en lag vir Suid-Afrikaanse grappe.
  • Ek hou daarvan om hier te kampeer, te braai, te kuier en vakansie te hou. Ek skree graag vir ’n Suid-Afrikaanse rugbyspan en is deel van ’n unieke rugby- en sportkultuur. Ek hou van blatjang, biltong, braaivleis en potjiekos.
  • Ek hou daarvan om hier kerk toe te gaan en God in my taal te aanbid en te besing. Tussen die mense waar ek leef is dit nie vreemd om ’n Christen te wees nie. Ek glo my roeping is hier in Suid-Afrika.
  •  Ek kan my taal, Afrikaans, ’n inheemse Afrika-taal, hier gebruik en uitleef. Ek is mal oor Afrikaanse musiek en is trots op ’n Afrikaanse letterkundige skatkis. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet in hulle moedertaal onderrig word. Ek droom graag in Afrikaans oor Afrikaanse dinge.
  • My familie woon in Suid-Afrika. Ek is lief vir hulle en wil deel van hulle wees. In krisistye het ek my familie nodig en hulle vir my. My familie is my enigste werklike ondersteuningsnet. My vriende is ook hier. Saam met hulle kuier ek oor dinge wat ons in gemeen het. Ek is nie bloot ’n enkeling nie, maar deel van die gemeenskap waarbinne en waaruit ek leef.

In die lig van bogenoemde is my verklaring van voorneme aan my mense dat ek hier gaan bly. Ek wil nie emigreer nie, maar wil ter wille van my, my familie en my gemeenskap hier in Afrika en in besonder in Suid-Afrika te bly. Ek maak dus my agterdeur toe, ek gaan nêrens heen nie. Die grootste daad van politieke protes is waarskynlik om te sê: Weggaan is nie ’n opsie nie. Ek is van Afrika en nie, soos die ANC sê: “colonialists of a special type’ nie.

Omdat ek nêrens heengaan nie, het ek geen alternatief as om vir my ’n demokratiese ruimte in Suid-Afrika oop te kap nie. Ek steek my hand uit na ander blyers om ’n toekoms hier te skep.

Die feit dat ek nie ’n alternatief het nie, is my geheime wapen vir ’n toekoms in Suid-Afrika.

  • Ek onderneem om my demokratiese regte op te eis. Ek is ’n demokratiese burger, nie ’n demokratiese onderdaan nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondemokratiese optrede my van ’n demokratiese toekoms ontneem nie. Ek kan nie toelaat dat ander se ondermyning van die Grondwet my van my grondwetlike regte ontneem nie. Ek kan nie dat ander se rasbeheptheid my van ‘n diskriminasievrye omgewing ontneem nie.
  • Ek sal aan veldtogte deelneem om my taal te beskerm en moedertaalonderrig te verseker, om die elektrisiteitskrisis op te los en misdaad in Suid-Afrika hok te slaan.
  • Ek sal help om gemeenskapstrukture te skep om my en my mense te beskerm en sal druk op die regering uitoefen om sy grondwetlike plig na te kom deur my te beskerm.
  • Ek sal nie hande gevou sit oor onbillike diskriminasie teen my mense in die werkplek nie, en sal politieke inmenging in sport nie aanvaar nie. Ons kan nie toelaat dat grondvergrype plaasvind en dat politieke inmenging misdaadbekamping bedreig nie.
  • Ek sal help om armoede onder my mense aan te pak en om opleidingsgeleenthede vir jongmense te skep. Waar die regering maatskaplike subsidies aan my mense onttrek, sal ons help om saam met kerke gemeenskapsorgstrukture te skep.
  • Ek sien Suid-Afrikaners in die buiteland nie as verraaiers nie, maar as ’n internasionale netwerk wat ek gaan help mobiliseer om vir ons wat hier gaan bly, ’n toekoms te help skep. Ek glo dat Suid-Afrikaners in die buiteland steeds ‘n verantwoordelikheid teenoor ons in die moederland het. Dieselfde redes wat hulle laat gly het, moet deur ons wat gebly het aangepak word.
  • Ek sal ons Afrikaanse kunstenaars ondersteun en Afrikaans luister en lees. Waar daar nie meer Afrikaanse opleidingstrukture bestaan nie, sal ek pogings ondersteun om nuwe opleidingsinstellings te bou.
  • Ek sal my hand ook uitsteek na ander Suid-Afrikaners en werk om ‘n beter toekoms vir almal in Suid-Afrika te skep.
  • Ek het nie meer tyd vir die luukse om apaties en depressief te wees oor die regering se onvermoë om vir my ’n veilige en aangename omgewing te skep nie. Ek gaan saam met my gemeenskap moue oprol en nie in alles afhanklik van die regering staan nie.
  • Kortweg: Ek sal aksies ondersteun en bevorder om vir my ’n plek in Suid-Afrika te skep, want ek gaan nêrens heen nie.

Word deel van BlyNet en onderteken hierdie verklaring: word ‘n BlyNetter.