Wenner van die Valentynsdag kompetisie!

BlyNet kompetisie

BlyNet het ʼn opwindende nuwe kompetisie net vir BlyNetters. As jy ʼn BlyNetter is en trots is op jou land en jou erfenis, is die kompetisie vir jou.

Valentynsdag is om die draai en dis die ideale geleentheid om vir ons te vertel hoekom jy verlief is op Suid-Afrika.

Skryf vir ons ʼn gedig of opstel oor ons mooi land en hoekom jy kies om hier te bly.

Jy staan die kans om ʼn vakansie vir 3 nagte in Margate te wen.

Die beste gedig of opstel sal ook op Wêreldwyd op Woensdag op www.solidariteitradio.co.za uitgesaai word.

Die sluitingsdatum is 28 Februarie, so maak seker dat jy nie die kans misloop nie. Stuur jou inskrywing na: heleen@solidariteit.co.za.

Ons het ʼn wenner vir die Valentynsdag kompetisie!

Baie geluk aan Jaconette Lewis wat vir ons so pragtige opstel geskryf het. Jy wen ʼn vakansie vir 3 nagte in Margate.

Baie geluk

MY hart klop sissend warm vir Suid-Afrika.

Sss…sis die boerewors op die braaivleiskole. Die vuurtjie knetter en kraak. Ek kyk na die gesigte rondom my en besef waarom ek Suid-Afrika vir niks wil veruil nie.

Ek kyk vir Dik Daan van die plaas Donkiedraai. Hierdie gesette seun met die khakieklere en die velskoene is heel op sy gemak om die vuur, want hy het op ‘n plaas doer diep in die Karoo grootgeword. Die Karoo met sy pragtige tongknoop blomme wat soos ‘n laslappiekombersdie veld versier; Kappertjies, Piet-my-vrou, Loslyfies, Gesiggies…. prentjieblomme.

Jaap van die Kaap lyk egter nie so tuis naby die knetterende vuurtjie nie. Hy is meer gewoond aan die Kaapse visbraaie wat beslis minder vlamme om die lyf het. Op sy gesig kan ek duidelik die gevolg van baie ure se son sien – golfry in skuimende branders, rondsit op skitterwit strande… Die Berg met sy miswolk tafeldoek is deel van sy menswees. Hy klim elke week tot bo en kyk ver uit oor die moederstad wat so baie van Suid-Afrika se geskiedenis teen sy rotse koester. Die Kaapse “bhgy” val sag op ons ore as Jaap van sy bergklim avonture vertel.

Michelle van Mpumalanga het ‘n skitterwit kosmosblom in haar hare gesteek vir hierdie kampvuur-kuiergeleentheid. Sy bly in ‘n klein plattelandse dorpie op die Hoëveld. Daar waar kinders nog in die strate kan speel en met hul fietse resies jaag oor die grasvlaktes. Daar waar ruimte is. Daar waar die Kosmosse die vaal veld in ‘n blomtuin omtower. Bosse van hierdie pienk, wit en pers prag pryk gereeld in haar ouerhuis.

Kisha van KwaZulu-Natal wil opsluit net bietjie geur aan die sissende boerewors gee met haar verskeidenheid sakkies en pakkies vol speserye. Kisha se ouers is diep gelowige Indiërmense wat hul eie speseryewinkel in Durban besit. Durban – die stad waar tyd nooit stilstaan en die son nooit ophou skyn nie. Mense skarrel, lag en kuier. Durban met sy sonsoeklywe op goue strande, sy reuse hawe waar skepe kom en gaan. Waar die Rikshas met hul oordrewe hooftooisels toeriste op die parade rondkarwei. Durban pols!

Ben van die Bosveld is die aardse ou onder die groep, doodluiters en op sy gemak langs die knettervuurtjie – ‘n Bosveldboorling in murg en been. Van jag kan jy hom niks leer nie. Sy uitgetrapte velskoene en rooigebrande neus getuig daarvan. Die Bosveld met sy wilde diere – leeus, bokke, kampeelperde…. Ben weet van boerewors braai, biltong maak en baklei.

Die son sak stadig oor die koppies. Indie verte vonkel stadsliggies. Om my daal rustige stilte saam met die skemer neer. Ek drink die gelag en gesels om my in. Ek voel die Afrika ritme in my pols… 

Ek besef – net soos ons eie tradisionele boerewors uit verskillende bestanddele gemaak is, net so is Suid-Afrika uit verskillende dinge saamgestel. Ek kan nie glo daar is mense wat dit selfs oorweeg om my boereworsland te verlaat nie!

MY hart klop sissend warm vir Suid-Afrika.